Die bidstaptog vir die vermiste Romano Fredericks, wat op Vrydag 15 Augustus plaasgevind het, is goed deur die gemeenskap ondersteun.

Hierdie staptog, wat deur die Vredenburg-soek-en-reddingseenheid vir vermiste mense (‘n entiteit op sy eie) aangebied is, is ‘n jaar ná sy verdwyning gehou.
Volgens die organiseerders was die doel van die staptog om weer bewusmaking te bring, en ook om Romano se verjaarsdag te vier.
Die diens het by die parkeergebied oorkant die Hoërskool Louwville plaasgevind, waarna byna 60 mense hul weg na Romano se ouerhuis gevind het. Volgens Anna Fredericks, Romano se ouma, is sy bly oor hoe alles verloop het en dat die eenheid alles so gou kon reël.
“Daar was polisiebeamptes ook, en ons was so dankbaar dat hulle tyd in hul besige dag afgeknyp het om ons te kom ondersteun.
“Leiers van die gemeenskap – dit was regtig hartroerend om te sien dat hulle so omgee.”
Anna meen terwyl geen lyk gevind is nie, is die familie nog baie hoopvol.
“Ons as familie hou vas aan die hoop, al raak dit party dae moeilik,” voeg sy by.
• Enigiemand wat hulp of ondersteuning nodig het wanneer dit by vermistes kom, kan die volgende mense by die eenheid skakel: Edwina by 073 675 2734, Fannie by 076 486 3522 of Lisa by 071 225 3566.





