Lesers van Noordhoek en ’n paar hooggeplaaste gaste het Dinsdag die amptelike heropening van die Noordhoek-biblioteek gevier.
Dié biblioteek is onlangs gemoderniseer. Volgens die bibliotekaresse Orlean Erasmus is die kinderafdeling uitgebrei, ’n studielokaal is aangebou en drie nuwe rekenaars vir die publiek se gebruik is bygekry.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuur en sport, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het dit amptelik geopen. Hy en verskeie lede van die provinsiale raad was die week in Velddrif vir die opening van die Wes-Kaapse Wetgewer.
“Ons grootste wens vir die Bergrivier is om ’n gebied te wees ‘waar almal wil’. Ek nooi die gemeenskap om hierdie biblioteek te gebruik en daarna om te sien,” het die munisipale bestuurder, Hanlie Linde, gemaan.
Linde sê die munisipaliteit hoop die biblioteek sal ’n ikoon van geletterdheid en geleerdheid wees.
Winde het op sy beurt gesê dit is belangrik vir die provinsie, in samewerking met munisipaliteite, om infrastruktuur te bou wat inwoners se lewe sal verander. “Ek hoef nie vir julle te verduidelik watter verskil ’n werk in iemand sal lewe kan maak nie. Daarom moet inwoners hierdie biblioteek as ’n geleentheid beskou om hul eie onderneming te begin, werk te vind of vir studies,” het Winde gesê.
Die Wes-Kaapse Biblioteekdiens is die grootste netwerk, met die meeste aantal lede en die grootste sirkulasie in die land, het Marais gesê. Sy het die gemeenskap aangemoedig om die biblioteek te gebruik, want “Google kan jou honderdduisend antwoorde gee, maar ’n bibliotekaris kan jou die regte een gee”.





