Vissers en omgewingsbewustes was Maandag verheug nadat die Kaapse hooggeregshof beveel het seismiese toetse wat tans aan die Weskus plaasvind, moet summier gestaak word.
Betogers, onder wie Weskussers, het Maandag na die hof opgeruk om hul ongelukkigheid oor die toetswerk te toon.
Die Australiese maatskappy Searcher Seismic is deur die hof beveel om sy toetse, wat gedoen word om olie en gas te soek, te staak.
Veertien applikante het ’n dringende tussentydse aansoek teen Searcher Seismic gebring.
Onder hulle was plaaslike vissers, Coast Links Langebaan en die Steenberg’s Cove- kleinskaalse vissersgemeenskap asook Green Connection. ’n Betoging teen die seismiese toetse is Sondag in St. Helenabaai gehou.
“Ons regering kan nie die oorweldigende uitroep van so baie minderbevoorregte vissersgemeenskappe ignoreer nie, veral langs die kus, wat nou konsekwent op die regstelsel moet staatmaak om hulle teen skadelike, onregverdige staatsbesluite te beskerm.
“Die tyd het aangebreek dat hierdie regering die snoek ruik en beter keuses maak ten opsigte van die land se ekonomiese ontwikkeling. Dit kan nie wees dat ons regering bereid is om tienduisende kleinskaalse vissers se bestaan ??in die drein af te spoel en te beweer dat dit tot voordeel van die mense is nie,” meen Neville van Rooy, Green Connection se gemeenskapskoördineerder.
Onder die applikante se klagtes en rede vir die hofaansoek is wat hulle noem die gebrek aan openbare deelname, kommunikasie met plaaslike gemeenskappe en die moontlike bedreiging wat dit vir seelewe kan inhou. Dié bedreiging het weer ’n regstreekse invloed op vissers se vermoë om ’n bestaan te maak meen hulle. Solene Smith van Coastal Links, een van die applikante, het ná die uitspraak gesê die vissersgemeenskap wil die oseaan teen olie- en gas-bedrywighede beskerm. “Dit het die afgelope paar maande duidelik geword dat baie mense hier en in die buiteland ons oseane erken as ’n hulpbron wat beskerm moet word. Vir tradisionele vissers, wat al honderde jare uit die see leef, is die see meer as net ’n hulpbron wat ons lewensbestaan ??onderhou en ons gesinne aan die gang hou.
“Vir ons, wat familielede en voorouers ter see verloor het, is die see deel van ons erfenis, wat ons glo die moeite werd is om te beskerm. Ons sal voortgaan om te baklei om deur nog ’n regering as waardige burgers, wat aktief bydra tot ons land se ontwikkeling en ekonomie, erken te word,” sê sy.
We are South Africa het op sy beurt besluit die hof se uitspraak is slegs die begin. Die organisasie sê aangesien dit slegs ’n tussentydse uitspraak is, is die stryd om die seismiese toetse heeltemal te keer nog lank nie verby nie.
Hoewel die seismiese toetse nou gestaak moet word, moet Searcher Seismic ’n beantwoordende verklaring indien sodat ’n aansoek om ’n tussentydse interdik aanstaande maand aangehoor kan word.


