Die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders nie, wat op 25 November begin het en tot 10 Desember duur, is ’n jaarlikse veldtog met ’n edele doel – om bewustheid te skep en verandering teweeg te bring. Tog is die skokkende misdaadstatistieke wat onlangs bekend gemaak is ’n pynlike herinnering dat hierdie veldtog nie genoeg is om die epidemie van geweld teen die kwesbaar­ste in ons samelewing te stuit nie.

In die Wes-Kaap alleen is 96 kinders tussen Julie en September vanjaar ver­moor – 36 meer as in dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is meer as een kind per dag wat sy of haar lewe weens geweld verloor. Landwyd is 315 kinders in hierdie drie maande vermoor. Die moordsyfer vir vroue in die Wes-Kaap het ook gestyg, van 124 in 2023 tot 132 in dieselfde tyd­perk vanjaar.

Hierdie ontstellende syfers bevestig wat ons reeds weet: geweld teen vroue en kinders is nie ’n kwessie van 16 dae nie, maar ’n daaglikse werklikheid wat stelselmatig aangepak moet word. ’n Samelewing wat sy vroue en kinders faal, het sy morele kompas verloor.

Regeringsorganisasies en gemeenskaps­leiers moet hulle beywer vir langdurige, volhoubare programme wat gerig is op die voorkoming van geweld, die ondersteuning van slagoffers en die oplos van die oorsake van geweld. Dit is tyd dat ons nie net bewusmaking skep nie, maar daadwerklik verandering bring – elke dag van die jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article