Frustrasies, ekstra onkostes en ’n tekort aan produkte is net van die struikelblokke waarmee entrepreneurs weens beurtkrag sukkel.
Eskom het die afgelope weke weer beurtkrag ingestel, wat volgens plaaslike sakelui tot uiterse frustrasie gelei het.
“Jy kan eintlik net mooi niks doen nie,” verduidelik Kobus Bekker van Bekker-plaasprodukte. Produksie by die slaghuis in Vredenburg is swaar deur beurtkrag getref. Bekker sê masjinerie by die onderneming staan ure lank stil wanneer dit beurtkrag is, wat weer tot langer produksietyd lei. Hy sê waar hy biltong binne ’n paar dae kon maak, neem dit nou ’n week weens die aan- en afskakel van die elektrisiteitstoevoer.
Weens die gedurige verandering van die beurtkragfases kan ’n onderneming soos dié van Bekker twee of drie keer per dag deur die onderbreking in elektrisiteit getref word.
“In die langtermyn was dit die beste om ’n kragopwekker aan te skaf, maar dan is daar die hoë koste van brandstof. As ons weer beurtkrag soos verlede week sou kry, sal my brandstof-onkoste R500 per dag wees,” verduidelik hy.
Intussen meen die Wes-Kaapse regering die beurtkrag moet as ’n nasionale ramp verklaar word. Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Dinsdag luidens ’n verklaring gesê die (staat se) idee om ’n “tweede Eskom” te skep, is sinneloos.
“Ons moet die herstrukturering van Eskom ondersteun sodat op die opgradering en instandhouding van die netwerk gefokus kan word. Ons moet nou die private sektor vertrou en sy vermoë om die geld en kundigheid te bring om nuwe opwekkers vinnig aan die gang te kry,” het Bredell gesê.
Intussen het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) bevestig Eskom se tariefaansoek gaan tans deur die interne proses. Indien dit sonder enige aanpassings goedgekeur word, kan verbruikers ’n 32,7%-verhoging vir die 2023-’24 boekjaar verwag.
André de Villiers, voorsitter van die Weskus-sakekamer, meen die huidige krisis is ’n geleentheid. “ ’n Paar dinge staan uit onder plaaslike sakelui. Ondernemings sukkel en die gevaar is dat sakelui eenvoudig gaan besluit om hul ondernemings te verkoop, want hulle is eenvoudig gatvol. Dit spoel weer oor na die werkers, en hulle is die mense wat die swaarste kry. Dit is die mense met gesinne en hulle is gewoonlik die broodwinners,” verduidelik hy.
Hy meen dit is verregaande om van sakelui te verwag hulle moet vir ’n diens betaal wat nie aan hulle gelewer word nie. De Villiers meen die staat moet wegdoen met die rompslomp en dit makliker maak vir sakelui om hul eie elektrisiteit op te wek.
“A hungry man is an angry man, soos Bob Marley sê,” sê De Villiers.
“Dit is daarom tyd vir sakelui om saam te staan, planne te deel en op te bou vir almal se onthalwe.”



