In ’n tyd waarin die land onder beurtkrag gebuk gaan, meen sakelui kragvoorsiening moet eerste gestel word.
Die sakekamers van Velddrif en Weskus is verstom deur die Saldanhabaai- munisipale raad se besluit om ’n aansoek om ’n sogenaamde sonplaas in die gebied van die hand te wys. Planne vir ’n fotovoltaïese elektrisiteitopwekkingsfasiliteit is in November verlede jaar deur die munisipaliteit afgekeur. Die fasiliteit sou in Langebaan op ’n gedeelte van die plaas Waschklip en Everts Hoop opgerig word.
Die munisipaliteit voer verskeie redes vir die afkeuring van die fasiliteit aan, waaronder die natuurlike etiese waarde van die gebied – veral vir Langebaan, wat as ’n toeristetrekpleister beskou word. Volgens die munisipaliteit sou die ontwikkeling ook die gebied vir toekomstige landbougebruik “steriliseer”.
In die beskrywing van die projek sou die fasiliteit sowat 4 500 fotovoltaïese panele hê, wat sowat 110 ha sou beslaan.
Die ontwikkeling se omgewingsmagtiging maak ook voorsiening vir 44 skeepsvraghouers wat as bergplek vir litiumioon-batterye sou dien.
Die munisipaliteit meen dié strukture van byna 3 m hoog en die uitbreiding van ’n addisionele 1 334 m² wat goedgekeur is, “sal lei tot ’n onaanvaarbare en ongewenste impak op die bou en natuurlike omgewing en sal die indruk van ’n nywerheidskarakter vir die voorgestelde ontwikkeling uitbrei”.
André de Villiers, voorsitter van die Weskus Sakekamer, meen egter die munisipaliteit is kortsigtig. “Moet ons nie in hierdie stadium alles doen om krag op te wek nie? Ons moet onsself vra waar trek dit die swaarste. Sekerlik nie die plantjies en blommetjies nie,” meen hy.
De Villiers sê hy neem die belangrikheid van die omgewing in ag, maar gegewe die kragkrisis sal ’n fotovoltaïese ontwikkeling ’n positiewe impak op voortslepende beurtkrag hê.
Benewens die impak op beurtkrag sê die Weskus Sakekamer in sy amptelike skrywe oor die ontwikkeling die bou van die fasiliteit sou werksgeleenthede skep. “Die Weskus Sakekamer ondersteun die sonplaas oor die vaardigheidsopleiding vir entrepreneurs en instandinghoudingspanne [wat uit die projek spruit].” Daarby voer die organisasie aan die toeganklikheid tot “skoon energie” sou meer beleggers lok, wat uiteindelik meer werksgeleenthede vir die streek sou beteken.
Johnny da Silva, voorsitter van die Velddrif Sakekamer, sê die oorlewing van die ekonomie moet eerste geag word. Hy meen die ontwikkeling kon deel wees van ’n moontlike oplossing vir gebrekkige kragvoorsiening.
“Ons het ’n dringende en onmiddellike oplossing nodig. Almal maak politieke geraas oor kragvoorsiening, maar die man op die straat gee nie om nie. Hy wil vir sy gesin ’n dak, kos en klere voorsien. Sakelui kan nie die ekstra kostes van kragopwekkers en brandstof dra nie. Die volgende stap gaan werksverliese wees,” verduidelik Da Silva.
Hy meen die Saldanhabaai-munisipaliteit se besluit om die ontwikkeling weens etiese redes af te keur is verregaande.
“Ek dink ons as ’n nasie het vergeet hoe dit voel wanneer alles werk soos dit moet. Die Covid-19-pandemie was sleg, maar beurtkrag is erger.”




