’n Sestienjarige seun van Wesbank, Malmesbury, is Saterdagoggend om 01:45 met ’n mes doodgesteek. Die oorledene het in Sterretjiestraat aan sy wonde beswyk waarna drie jong verdagtes tussen 17 en 21 jaar vir sy moord in hegtenis geneem is. Hulle het reeds Maandag 2 Oktober in die plaaslike landdroshof op aanklag van moord verskyn.

’n Man van Laingville, St. Helenabaai, sterk in die hospitaal aan nadat hy Sondagoggend 1 Oktober omstreeks 02:30 met ’n mes aangeval is. Wezo Mnyamama (41) is in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord ná die aanval wat in Duikerlaan in Laingville plaasgevind het. Mnyamama het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Twee mans is op Riebeek-Wes in hegtenis geneem vir die moord op ’n 42-jarige man van dié dorp. Die oorledene het Sondagoggend om 02:45 in Tafelbergstraat aan sy wonde beswyk. Aphiwe Klaush (31) en Zamokuhle Gowane (24) het Dinsdag 3 Oktober in die rondgaande hof in Riebeek-Wes op aanklag van moord verskyn.

’n Klag van aanranding met die doel om te beseer word ondersoek nadat ’n 17-jarige seun sy 25-jarige broer aangerand het. Die ouer broer wou Sondagoggend om 09:00 uit die huis gaan toe die jonger broer hom oor die kop geslaan het, wat ’n oop wond veroorsaak het. Die beskuldigde het Dinsdag in die landdroshof in Hopefield verskyn.

Vincent Kametsi (35) is Sondagaand omstreeks 22:30 in Malmesbury met ’n mes doodgesteek.

Die verdagte, Mbulelo Mayekiso (35), is in hegtenis geneem nadat sy bure hom aan die polisie uitgewys het waar hy in die straat gelê het. Mayekiso is in September vanjaar al twee keer aangekeer vir die besit van en handel dryf met dwelms. Hy het Dinsdag 3 Oktober in die landdroshof in Malmesbury verskyn.

Die polisie op Laaiplek ondersoek ’n aanklag van poging tot moord wat eers Sondag 1 Oktober aanhangig gemaak is.

Die klaer, ’n 25-jarige man van Noordhoek, is op 5 Augustus om 04:30 só gewelddadig aangeval dat hy tot verlede Sondag in die hospitaal moes aansterk.

Die klaer is van sy nek tot sy maag oopgesny. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy ’n klag teen sy aanvaller aanhangig gemaak, iemand wat hy ken en met wie hy op die betrokke aand oor bier stry gekry het. Die ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article