Suid-Afrikaners is die afgelope week in verdere donkerte gedompel met Nersa se aankondiging dat hy ’n 18,65%-kragprysverhoging aan Eskom toegestaan het. Hoewel dit aansienlik laer is as die meer as 30% waarvoor Eskom aansoek gedoen het, beskou talle verbruikers dié verhoging as buitensporig en ongegrond aangesien verbruikers se ligte die afgelope weke meer af as aan was. Party Weskus-dorpe soos Velddrif en Saldanha was te midde van Fase 6-beurtkrag, wat tot Maandag voortgewoed het, soms meer as 11 ure per dag sonder krag met verdere onbeplande kragonderbrekings weens tegniese foute ná afloop van beurtkrag.

Die verlaging na fase 4 deur die dag en fase 5 wat eers laatmiddag inskop, bring min verligting vir talle verbruikers wat steeds saans vier ure se donker skofte moet trotseer. Intussen het talle sakeondernemings en residensiële verbruikers hulle noodgedwonge na alternatiewe kragbronne gewend en bestee duisende rande om kragopwekkers, kragomskakelaars of sonpanele aan te bring net om die ligte en yskaste aan te hou. Die privatisering van krag blyk dus die langtermynoplossing te wees, maar weer eens teen massiewe bykomende koste vir die verbruiker, wat reeds hoë rekeninge betaal vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article