’n Bestuurder van ’n plaaslike vervoerdiens is na bewering Vrydagaand (26 Augustus) gekaap nadat die verdagtes glo voorgegee het hulle wil van sy dienste gebruik maak.

Die plaaslike vervoerdiens is glo gekontak en gevra om drie mense van Saldanha na Langebaan te vervoer.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die vervoerdiens toe iemand gestuur om die vermeende kliënte by ’n vulstasie in Saldanha te gaan oplaai.

Die voorval het tussen 23:00 en middernag plaasgevind.

Helfrich sê die mans het by die vulstasie in die voertuig geklim en die bestuurder het die mense, soos versoek, na Langebaan geneem.

Volgens ’n polisieverklaring het een van die passasiers, wat agter in die motor gesit het, by Sterretjiestraat in Seaviewpark, Langebaan, ’n vuurwapen uitgeruk, die bestuurder (27) gedreig en hom beveel om agter te kom sit. Een van die kapers het agter die stuurwiel ingeskuif en die mans het ’n ent ver met die slagoffer in die voertuig rondgery voordat hulle hom langs die pad afgelaai en met sy besittings weggery het.

Die voertuig is later verlate in die Better Life-gebied in Vredenburg opgespoor. Die kapers is steeds soek, maar die polisie volg elke moontlike leidraad en wenk op om die skuldiges vas te trek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article