Vredenburg het gewis sy beste vir laaste gehou.
Die Burg Boys het Saterdag op die grafkelder met 15 elk gelykop teen die tuisspan, Young Hearts, gespeel.
Vredenburg, wat die eerste helfte met die wind in die gesig gespeel het, was rustyd nog 0-15 agter. Die span het wel in die eerste helfte verskeie kanse verbrou om op die telbord te verskyn.
Vredenburg het ook gesukkel om uit sy eie halfgebied te kom en met goeie verdediging het die besoekers die tuisspan tot foute gedwing.
Die Burg Boys se voorspelers het ook gereeld besit omgekeer, maar die span se dissipline het byna sy eie ondergang bewerkstellig.
Young Hearts het volpunte benodig om die span van Velddrif uit die vierde plek te dwing, maar kon egter nie voortbou op sy eerstehelfte-sukses nie. Young Hearts, wat ook die eerste helfte soos ’n span gespeel het wat die Burg Boys ’n rugbyles wou leer, kon ook nie met die wind van agter voordeel trek uit al sy gebiedsvoordeel nie.
Vredenburg het die besoekers gereeld met skitterende verdediging op die agtervoet gehou. Die span het die tweede helfte oorheers met gebiedsvoordeel en balbesit. Die tuisspan met die wind in die gesig het eenvoudig nie al die antwoorde op die besoekers se vrae gehad nie.
Met Ruben Abels se troepe wat gesukkel het om sy blitsige agterlyn weg te kry, het die Burg Boys geduldig kanse afgewag en kon die wedstryd teen die einde met ’n verdoelde drie gelykop laat eindig.
Vredenburg het ook ’n oorwinning broodnodig gehad en kon met volpunte ’n plek of twee op die punteleer spring. Hoewel die spanne se liga- verpligtinge voltooi is, heers groot onsekerheid steeds oor wie die streek- kampioen is.
Saldanha en St. Helenabaai het gister (Woensdag) voor die Boland-rugbyunie (BRU) se tugkomitee verskyn. Die voorval spruit uit die wedstryd van Saterdag 2 September tussen Saldanha en St. Helenabaai, wat ná 10 minute in die tweede helfte weens ’n vuisgeveg gestop is.
Weslander het die spanne se klagstate probeer kry en St. Helenabaai het hulle s’n verskaf.
Volgens die BRU sal die Agterbaaiers op drie aanklagte verskyn en die klagte is dat speler Diego Talmakkies ná ’n rooi kaart glo ’n speler van Saldanha aangerand het. Klagte twee is dat Marshall Petersen ná die wedstryd na bewering voorwerpe na ondersteuners gegooi het en laastens dat die span se spelers in ’n groepgeveg betrokke was.
Saldanha is ook gevra oor hul klagstaat. “Ongelukkig is die saak sub-judice en sal ons eers kan reageer nadat die saak afgehandel is,” het die klub laat hoor. Weslander het ook by die unie se uitvoerende hoof, Quinton van Rooyen, probeer uitvind oor die klagte, maar ook sonder sukses.





