Die provinsie se toplandbouwerkers is onlangs vereer, met verskeie plaaslikes wat geskitter het.
Hoewel die topprys uiteindelik aan Nigel Klaasen, ’n junior produksiebestuurder op die plaas Fruitways Glen Elgin in Elgin, gegaan het, was Emile Asplein (Bergrivier) en Gerrit Boois (Piket-Bo-Berg) onder die finaliste.
Die toekennings is deur dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, by Grand West in Kaapstad aangebied. Die Prestige Agri-toekenningskompetisie word jaarliks gehou om uitblinkers van die sektor te vier.
“Die Prestige Agri-toekenningskompetisie wys nie net die uitstekende werk wat in die landbousektor in hierdie provinsie gedoen is nie. Die gee ook erkenning, vier en inspireer trots in die arbeidsmag en moedig hulle aan om nuwe vaardighede aan te leer. Agri-werkers speel ’n belangrike rol in die Wes-Kaapse ekonomie.
“Hul energie, kennis en kundigheid dra by tot voedsel- en voedingsekerheid, bring buitelandse valuta na die land deur uitvoere en voorsien vir hul gesinne. Ons vier uitnemendheid, ambisie, selfvertroue, dryfkrag en die mededingende gees van ons landbouwerkers,” het Meyer by die geleentheid gesê.
Vanjaar het 994 werkers van 15 streke in 11 kategorieë meegeding.
Gerrit Boois (51) wat Piket-Bo-Berg se agriwerker van die jaar was, sê dit is wonderlik om erkenning vir sy werk te kry.
“Kyk, ek is nie een vir fame of sulke goeters nie, maar dit voel goed. Mense moenie na toekennings kyk en dink hulle is beter as andere nie. Ek hoop liewer my toekenning spoor ander werkers aan om dieselfde te bereik,” sê hy.
Boois werk reeds 25 jaar op Heldervue Estates waar hy deesdae junior produksiebestuurder is.
“Dit is ’n baie interessante werk. Dinge is altyd aan die verander en tegnologie speel ’n groot rol in ons werk. Waar ons eens die vrugte met skêre geoes het, het ons nou battery-aangedrewe skêre en in plaas van die traplere wat ons gebruik het, is daar nou platforms. Dit alles help om produktiwiteit met 30% te vermeerder,” sê hy.
Boois meen die grootste uitdaging, maar ook die lekkerste deel van sy loopbaan, is om met mense te werk. Nuwe tale word aangeleer wanneer nuwe seisoenwerkers na die plaas kom, mense regverdig, tog soos individue, behandel word en daar is altyd iets nuuts om te leer. Hy sê wat sy werk nóg beter maak, is dat sy vrou en twee van sy broers ook op Heldervue werk, en nog ’n broer op die plaas langsaan.
“Boerdery en landbouwerk vloei deur ons are,” sê hy.
Boois sê hy het nog 14 jaar van werk oor en hoop om eendag sy eie lappie grond te hê.
Mede-agriwerker Asplein is by Uitkyk van JD Kirsten Edms. Bpk. werksaam. Hy het onlangs met Paarl Post (susterskoerant van Weslander) gesels oor sy prestasie.
“As tegniese operateur van Uitkyk is ek verantwoordelik vir die kalibreer van bemestingstowwe, die gebruik van plaagdoders, sowel as vir die trekkers en die gebruik daarvan,” sê hy.
Asplein spog ook met vele ander toekennings. Hy is van 2004 tot 2009 vyf keer as ’n wenner by die Prestige-landbouwerker-prysuitdeling in die Worcester-distrik aangewys.
“Die landbouwerkerskompetisie spoor my aan om my kennis te verbreed en open baie deure,” meen hy.





