Wêrelde uitmekaar! Ek praat nie van Suid-Afrika en Europa nie. Ek praat van mense wat in Suid-Afrika woon. Soveel positiewes, maar ook soveel negatiewes, alles in een land bymekaar gegooi. Miskien is dit hoekom die regering so sukkel om sinvolle besluite te neem. Hulle probeer voortdurend sekere groepe min of meer tevrede hou, sonder om ’n rigting in te slaan wat positiewe ekonomiese groei kan bring.

Politici probeer ons wysmaak ons moet daarna streef om almal ewe ryk te wees. Die waarheid is egter dat party mense voortdurend hard aan die werk is en besig bly met planne beraam vir nuwe inisiatiewe sodat hulle “vooruit kan boer”. Hulle sal nagte of naweke deurwerk om produkte of dienste betyds te kan lewer, terwyl ander voortdurend probeer om net die minimum wat van hulle verwag word, te doen. Hulle is ook dikwels eerste om te kla wanneer daar van hulle verwag word om iets ekstra te doen.

Daar is enersyds mense wat op straathoeke staan en goedere verkoop wat hulle vervaardig het en andersyds dié wat op straathoeke bedel. Daar is mense wat probeer om ’n plan te maak en vir hulself te sorg, terwyl ander die regering blameer omdat hulle nie genoeg kry nie.

Daar is ’n storie van ’n ekonomiedosent wat gesê het sy het nog nooit ’n student gedruip nie, maar onlangs het sy ’n hele klas gedruip. Dié besondere klas het daarop aangedring dat sosialisme goed werk en dat niemand arm en niemand ryk sou wees nie, ’n groot gelykmaker.

Die professor sê toe “Goed dan, ons sal in hierdie klas ’n eksperiment hieroor doen.” Elke student sou die gemiddelde van almal se toetspunte as punt ontvang, so niemand sou ’n punt hoër as die gemiddelde kry nie. (Punte sou i.p.v. geld gebruik word – dit sou vir almal maklik wees om te beleef en te verstaan.)

Ná die eerste toets is die gemiddelde punt bereken en almal het ’n B gekry. Die studente wat hard geleer het, was ontsteld en die studente wat min gestudeer het, was gelukkig.

Vir die tweede toets het die studente wat min studeer het, nog minder gestudeer en die wat hard studeer het, het besluit hulle wil ook graag iets kry waarvoor hulle nie hoef te gewerk het nie. Die tweede toetsgemiddelde was ’n D. Niemand was gelukkig nie. Toe die 3de toets se uitslae kom, was die gemiddelde ’n F.

In daaropvolgende toetse het die punte nooit verbeter nie, maar verwyte, konflik en blamering het gelei tot ’n baie negatiewe klasatmosfeer en niemand wou meer vir ander se voordeel studeer nie.

Tot hul groot verbasing het almal uiteindelik gedruip en die dosent het vir hulle gesê dit werk dieselfde in die ekonomie. Wanneer die beloning groot is, is die poging om sukses te behaal groot, maar wanneer die beloning weggeneem word, sal niemand meer probeer om topprestasies te behaal nie.

. Vir wat een persoon ontvang sonder om daarvoor te werk, moet ’n ander persoon werk sonder om iets te ontvang.

. Die regering kan niks aan iemand gee wat hulle nie eers van iemand anders neem nie.

. Jy kan rykdom nie vermeerder deur dit te verdeel nie.

Wanneer die helfte van die mense dink hulle hoef nie te werk nie omdat die ander helfte vir hulle gaan sorg, en die ander helfte besef dit baat nie om hard te werk nie, want iemand anders gaan die beloning kry wat hulle toekom, lei dit tot almal se ondergang.

So, wat is die kans dat ons almal op ’n dag ewe ryk sal kan wees? Die storie hierbo laat my dink die kans is veel groter dat ons almal uiteindelik eerder ewe arm sal wees.

Aangesien staatsondernemings soos Eskom, SAL, ens. ’n las eerder as ’n bate geword het, het die regering slegs geld wat van belastings af kom om aan te wend. Indien die regering nie belastings invorder nie, kan geen toelaes, subsidies, salarisse, ens. uitbetaal word nie.

Die gesegdes “Niemand skuld jou enigiets nie” en “Die beste helpende hand is aan die einde van jou eie arm”, sal ons veel verder bring as om te verwag die regering moet vir ons almal sorg.

. David Malherbe is ’n besigheid- en loopbaan-konsultant van Langebaan; kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article