Kinderbeskerming lê kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisiekluster, besonder na aan die hart aangesien sy self ook ’n ma is.
Sy glo ouers behoort alles in hul vermoë te doen om hul kinders teen die wrede wêreld te beskerm, maar terselfdertyd moet kinders op ’n ouderdomsgepaste wyse bewus gemaak word van die gevaar van misdaad en mense met minder as goeie bedoelings.
Sy sê ouers moet nie nalaat om hul kinders met kennis te bemagtig nie. Hulle moet weet wat om in ’n noodsituasie te doen of wanneer ’n volwassene hulle ongemaklik maak.
Ongelukkig word baie plaaslike kinders in hul eie huise aan gesinsgeweld blootgestel, en verwaarlosing van kinders is ’n enorme probleem.
“Daarom wil ons hê hierdie kinders moet weet hulle kan met die vriendelike oom of tannie by die polisiekantoor kom praat wanneer hulle in ’n moeilike situasie by die huis verkeer,” verduidelik Helfrich.
Sy deel graag die volgende praktiese raad namens die plaaslike polisiediens met ouers:. Kinders moet hul naam, van, ouderdom, adres en hul ouers se telefoonnommers en adres ken.. Kindersmoet weet hoe om die polisie of ’n ander familielid in geval van nood te kontak.. Wanneer kinders alleen by die huis is, moet hulle aan mense wat bel, sê hul ouers is daar, maar is besig en kan nie na die foon toe kom nie. Die persoon wat bel, kan later terugbel. Leer jou kind om enige telefoonoproepe met vreemdelinge dadelik te beëindig en die telefoon neer te sit as die een wat gebel het aanhou praat.. Wanneer kinders alleen by die huis is, moet hulle vra vir die identifikasie van die persoon wat by die deur kom vra sonder om die deur oop te maak. As ’n vreemdeling by die deur is, leer jou kinders om vir die vreemdeling te sê jy is besig en hy (of sy) moet weggaan en later terugkom. Leer jou kind om nie met die besoeker in gesprek te tree nie. Indien die kind bedreig voel, leer hom/haar om ’n noodnommer te skakel.. Indien dit enigsins moontlik is, moet kinders saam met ander kinders speel en stap– nooit alleen nie.. Kinders moet altyd jou toestemming vra voordat hulle geskenke van vreemdelinge aanvaar.. As ’n vreemdeling jou kind alleen nader of agtervolg, moet hy/sy huis toe hardloop, of na die naaste openbare plek of ’n vriend se huis.. Kinders moet weet dat volwassenes, veral vreemdelinge, selde kinders vir hulp of aanwysings vra. Verduidelik aan jou kind dat mans sowel as vroue vreemdelinge is.. Kinders moet weet wanneer hulle in ’n winkel of winkelsentrum van jou geskei raak, hulle dadelik na ’n winkelwerknemer of kassier vir hulp moet gaan. . Jy moet te alle tye weet waar jou kinders is. Maak seker jy weet wie hul vriende is en wees reguit oor die plekke en huise wat hulle mag besoek.. Moet nooit kinders sonder toesig in ’n voertuig los nie.. Luister na jou kinders. Let op as hulle vir jou sê hulle wil nie saam met iemand wees of iewers heen gaan nie.. Let op wanneer iemand jou kind baie aandag gee of geskenke begin aandra. Vra jou kind oor so iemand uit en stel vas waarom daardie persoon so optree.. Leer jou kinders dat hulle die reg het om enige onwelkome, ongemaklike of verwarrende aanraking of optrede deur ander te weier en so gou moontlik uit daardie situasie te kom. As hulle nie kan wegkom nie, moet kinders geleer word om te skop, te skree en weerstand te bied deur hard te skree: “Hierdie man is nie my pa nie!” . Wees sensitief vir enige veranderings in jou kinders se gedrag of houding. Moedig oop kommunikasie aan en leer hoe om ’n aktiewe luisteraar te wees. As jou kinders jou van enige probleme vertel, probeer kalm bly, wees gerusstellend en nie-veroordelend. Werk saam met hulle om hulp te kry om die probleem op te los.. Oefen basiese veiligheidsvaardighede saam met jou kinders. . Ontwikkel kodewoorde en leer jou kind om eers die kodewoord van die volwassene te vra wat beweer hy het gekom om hom of haar by die skool op te laai aangesien mamma of pappa iewers vasgedraai het. Deel die kodewoorde slegs met mense wat jy vertrou. Sê jou kinders om nie saam met iemand te stap of in ’n motor te klim as daardie persoon nie die kodewoord ken nie.




