Nasionale Kinderbeskermingsweek word van 27 Mei tot 2 Junie in Suid-Afrika gehou om bewustheid van kinderregte, soos vervat in die Kinderwet van 2005, te skep.
Dié veldtog, wat in 1997 begin het, poog om alle sektore in die samelewing te mobiliseer om die versorging en beskerming van kinders te bevorder.
In die aanloop tot Kinderbeskermingsweek gaan Weslander elke week nuttige inligting aan ouers, onderwysers, voogde en kinders verskaf sodat kinders nie net teen misdaad en geweld beskerm kan word nie, maar ook teen ander gevare wat ons jeug se fisieke en geestesgesondheid benadeel.
In hierdie week se uitgawe deel plaaslike kenners hul raad oor padveiligheid, die gevare van die internet, depressie en selfdood en gevaartekens by babas wanneer hulle siek is.
Lesers sal oor die volgende paar weke ook kan lees oor onder meer die gevare van dwelms en drank, tienerswangerskappe, wiegiedood asook waterveiligheid en verdrinkings.
Kom ons staan saam om gesonde kinders in veiligheid groot te maak en die volgende generasie teen al die verskillende euwels van die samelewing te beskerm.. Weslander se Trish Goosen het die inligting saamgestel.



