Paasnaweek is gewoonlik die tyd wanneer families bymekaar kom, gesellig kuier en dankbaarheid deel aan Jesus vir dit wat Hy op die kruis vir ons gedoen het – die bloed wat vir ons sonde gevloei het.

Moet ook nie vergeet dat ons Sy opstanding vier nie. Wat is meer wonderlik en onbaatsugtig as dit?

Vanjaar se Paasnaweek in die Weskus was egter een van bloed, dood en hartseer. Elf mense het hul lewe weens skiet- en messteekvoorvalle verloor.

Met die jongste slagoffer wat maar net 22 jaar oud was, is dit hartseer om te dink dat so ’n mooi naweek van liefde en samesyn so wreed kon eindig. ’n Jong man met sy hele lewe voor hom, leweloos in die straat gelos asof hy niks beteken het nie.

Die naweek se bloedvergieting was heeltemal sinneloos en onnodig. Waar kom al hierdie woede vandaan? Is dit verkeerd om te dink dat mense regtig die betekenis van Paasfees vergeet het – dat dit bloot net as ’n tyd gesien word om partytjie te hou, te drink, die langnaweek te geniet, kerrievis en rolletjies te geniet? Kan ons terugbeweeg na wat dit regtig simboliseer? Kan ons liefde en omgee deel en die waarde van iemand se lewe koester? Dink daaraan.

Dit bly iemand se seun, ma, pa, broer of suster, en in baie gevalle die broodwinner. Niemand het die reg om ’n lewe te neem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article