Brandbestryders van die Weskus het hierdie brandseisoen onder meer gehelp om brande op die hange van Paardeberg te blus.


Dit was ’n besige feestyd vir die Weskus se brandbestryders, wat verskeie brande moes blus.

Residensiële en veldbrande kan groot skade aan eiendom veroorsaak en die lewens van mens en dier in gevaar stel.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) se brand-en-reddingspan het onder meer gehelp om hul kollegas van die Kaapse Wynlande- en Drakenstein-munisipaliteite by te staan met brande wat verlede maand in die Paardeberg uitgebreek het. Die brand was in ’n gebied met digte 20 jaar oue plantegroei. Ses brandweervoertuie en plaaslike brandbestryders het gehelp om inwoners en hul eiendom te beskerm.

In Moorreesburg se Sibanye-plein het die distrik se brandweerpersoneel gehelp om ná ’n vernietigende brand hulp aan inwoners te verleen.

Kospakkies, komberse en matrasse is saam met gemeenskapsorganisasies aan inwoners, wat hul wonings in die brand verloor het, geskenk.

Die span het ook bystand gebied aan brandbestryders van Shelley Point en die Saldanhabaai-munisipaliteit wat op 2 Januarie die brand by die St. Helenabaai-hotel geblus het.

“Dit is danksy die gekombineerde pogings van toegewyde brandbestryders van verskeie munisipaliteite dat hierdie brand onder beheer gebring is,” het die munisipaliteit gesê.

Die Wes-Kaap loop in die somermaande gereeld onder veldbrande deur.

Volgens CapeNature kan selfs ’n klein brand vinnig vlamvat op warm, droë en winderige dae. Dit hou dan ’n gevaar vir lewens, eiendom en die natuur in.

Volg gerus CapeNature se braai- en kampvuur-veiligheidswenke om brande te voorkom:

. Moenie vlambare vloeistof bv. petrol of paraffien gebruik om ’n vuur mee te begin nie. Gebruik eerder papier, droë stukkies hout en vuuraanstekers.

. Hou kinders en diere weg van die vlamme en moet hulle nie sonder toesig by die vuur laat nie. Maak ook seker die vuur word nie naby plantegroei gemaak nie.

. Maak kole van die braaivuur in water nat voordat dit weggegooi word, aangesien die kole lank warm bly. Gooi ook sand oor as en kole totdat alle vonke geblus is.

. As jy ’n gasbraai het, bêre altyd die gassilinder buite en maak seker dat die klep nie lek nie deur te verseker dat dit behoorlik toegedraai is wanneer dit nie gebruik word nie.

. Moenie ’n vuur of smeulende kole sonder toesig laat nie.

. Moenie kerse, vuurhoutjies of gas binne ’n tent gebruik nie. ’n Brand kan vinnig ontstaan en mense binne-in kan vasgekeer raak.

. Hou altyd ’n groot houer met water byderhand.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article