Só kan ’n mens se lewe in ’n oogwink verander, meen Charmaine van Rensburg nadat haar man, Christophorus van Rensburg, ’n bekende kunstenaar van Jacobsbaai, vroeër in Augustus ’n beroerte gehad het. Weslander het in 2021 oor Christophorus berig (“Bright, happy colours reflect Paternoster lifestyle”, Weslander, 11 February 2021.) Charmaine sê dit het op ’n doodgewone aand gebeur toe die paartjie soos gewoonlik die sonsondergang gaan kyk, huis toe gekom en kos gemaak het – gereed om die aand af te sluit.
Die beroerte het die regterkant van Christophorus se liggaam geaffekteer, wat hoofsaaklik sy regterhand – die hand waarmee hy skilder – geraak het.
Omdat hy ’n voltydse kunstenaar is en so sy inkomste verdien, het die beroerte ’n groot verandering en impak op sy lewe gemaak, wat hom verhoed om te skilder en sodoende ’n inkomste te genereer.
Hierdie gebeure was so onverwags en het die paartjie emosioneel geknak, maar ook deur ’n leerskool geneem.
“Ons is tot stilstand geruk, en so kom ’n mens agter dat jy baie dinge in die lewe as vanselfsprekend aanvaar,” vertel Charmaine.
’n Lang pad na herstel lê nog vir Christophorus oor, maar Charmaine ondersteun en versorg haar man al die pad.
“Hy doen daagliks sy oefeninge en hoewel hy party dae sy afdae het, bly hy vasbeslote.”
Om Christophorus finansieel te help, is ’n Back-a-buddy-blad gestig.
“Dit was wonderlik om te sien hoe almal bymekaarkom en sy Back-a-buddy-blad ondersteun. Ek het nie geweet so ’n organisasie, wat mense kan help om geld in tye van nood in te samel, bestaan nie. Ons is baie dankbaar.”. Lesers wat ’n bydrae wil lewer, kan www.backabuddy.co.za/christoforus-van-rensburg besoek.





