Die Bergrivier-munisipaliteit het weer sy merk op die nasionale verhoog gemaak – hierdie keer by die gesogte nasionale goeie bestuurstoekennings, wat in Oktober by die Gallagher-landgoed in Johannesburg gehou is.
Die munisipaliteit het drie groot toe- kennings ontvang en daarmee sy posisie as een van die beste bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika bevestig.
“Dit is ‘n trotse oomblik vir Bergrivier. Hierdie toekennings gaan ooreerlikheid, aanspreeklikheid en diens aan ons mense. Ten spyte van ekonomiese uitdagings wys ons dat uitnemendheid en integriteit kan floreer wanneer almal saamwerk,” het die Bergrivier- burgemeester, Ray van Rooy, gesê.
Die munisipaliteit het die volgende toekennings ontvang:
• Skoon oudit-uitkoms vir die 2023-’24-boekjaar – die negende agtereenvolgende skoon oudit, wat uitstekende finansiële bestuur en deursigtigheid weerspieël;
• Erkenning vir 10 jaar finansierde begrotings – ‘n bewys van volgehoue finansiële dissipline en stabiliteit; en
• Goue toekenning – vir ‘n plek in die top-3,8% van Suid-Afrika se beste
bestuurde munisipaliteite.
Van Rooy het die prestasies aan die toewyding en spanwerk van die munisipaliteit se leierskap, personeel en gemeenskap toegeskryf. Die sukses is op die munisipale raadsvergadering op 28 Oktober met trots gevier.
“Ons sukses is gebou op spanwerk, bestendigheid en ‘n gedeelde visie.
Hierdie toekennings behoort aan elke werknemer, raadslid en inwoner van Bergrivier – julle inspireer ons om met passie te dien,” het Hanlie Linde, die munisipale bestuurder, gesê.





