Bo blink, maar onder stink – só het die oumense altyd gesê oor iemand wat baie op die uiterlike vertoon let, maar wie se dade en ingesteldheid nie met die blink uiterste ooreenstem nie.

Só lyk dit soms ook in sommige munisipaliteite en staatsinstellings. Sommige gee nie eens meer voor om om te gee oor die “vertoon na buite” nie. ‘n Onlangse foto van verwaarloosde munisipale kantore in Lambertsbaai het geskok.

Die Cederberg-munisipaliteit het duidelik ander prioriteite as om na sy eie geboue om te sien.So ook die departement van justisie. Die historiese ou gebou waarin die landdroshof in Vredenburg gehuisves word, lyk vervalle en verwaarloos. ‘n Nuwe intrekker in die Weskus het onlangs opgemerk dat dié 1906-gebou – wat van Kerkstraat en Hoofstraat se kant erg vervalle lyk, dalk ingespan kan word as ‘n nagskuiling vir haweloses. Die gebou lyk só sleg dat sy gedink het dit staan leeg.

Vroeg vandeesweek het Weslander die stortingsterrein in Velddrif, langs die Noordhoek-woonbuurt, besoek. Tot ons skok lyk dit erger as die Elandsbaai-stortingsterrein, waaroor ons al berig het.

Vir ‘n munisipaliteit wat daarop roem om al jare “skoon oudits” te kry, is dit werklik ‘n klad op sy naam om so ‘n gemors as diens aan belastingbetalers aan te bied. Daar is wel gou op navrae gereageer, en beloftes gemaak om dié haglike sakie op te los.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article