’n Man (45) het Maandagmiddag verdrink toe hy en ’n vriend vanaf die Carinus-brug in die Bergrivier ingespring het. Honderde mense drom jaarliks op die brug (foto) saam om kanovaarders wat die Bergrivier-kanomarathon voltooi by die eindpunt in Velddrif te verwelkom. Foto: Weslander-argief


Twee mense het Maandag (9 Januarie) in twee afsonderlike voorvalle in die Bergrivier verdrink.

In die eerste geval is Willem Kouter (66) omstreeks 09:45 naby Knorvarkie gevind nadat hy in die water beland het toe hy visgevang het.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Dinsdag bevestig dié man het in die water geval, en hoewel ’n verbyganger probeer het om die man te red, kon die bejaarde nie betyds uit die water gehelp word nie.

“Die oorledene is met ’n sak in sy hand gewaar toe hy stroomaf in die rivier meegesleur is,” sê Helfrich.

Volgens Lienkie Adams was haar grootmaak-pa ’n ware mensemens.

“Hy het ná sy aftrede vir visvang geleef. Dit was deel van sy daaglikse roetine om lyn nat te maak. Hy het ook baie mense leer visvang,” sê sy.

Kouter was ’n bekende op die dorp en het by die Bergrivier-munisipaliteit gewerk.

“Hy was altyd bereid om ander te help. Hy was nederig, ’n grapjas en altyd reg om ander te laat lag,” vertel Adams.

Sy sê die familie is geskok deur die tyding, maar sal “Oom Willem”, soos hy bekend gestaan het, onthou soos hy was.

Kouter laat sy vrou, Katrina, en vier kinders agter.. Die onstuimige water het ’n tweede lewe geëis nadat ’n man (45) en sy vriend van Vredenburg glo vir die pret van die Carinus-brug af in die Bergrivier gespring het. Die voorval het omstreeks 16:40 plaasgevind.

Volgens plaaslike paramedici is die man deur twee jonger mans uit die water gehaal. Die twee was glo in ’n verbygaande boot onderweg.

Hoewel medici kardiopulmonêre resussitasie toegepas het, is die man op die toneel dood.

Helfrich sê die man is vermoedelik deur die sterk stroom oorweldig.

“Geen misdaad word in enige van die voorvalle vermoed nie. Dit blyk die strome was net te sterk,” sê sy.

Verdrinkings in riviere en swembaddens of ander binnelandse verdrinkings is meer algemeen as dié by die see, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) verlede maand gesê.

Volgens die organisasie se navorsing vind 95% van verdrinkings in die land in riviere, damme of swembaddens plaas.

“Elke jaar verdrink ongeveer 1 500 mense, en ongeveer 450 daarvan – of 30% – is onder die ouderdom van 14,” sê Andrew Ingram, bestuurder van verdrinkingsvoorkoming van die NSRI.

“Hierdie verdrinkings is met die regte opvoeding en opleiding heeltemal voorkombaar,” sê hy in ’n verklaring.

Ingram se twee grootste wenke is om altyd ’n oog op kinders te hou wanneer hulle naby enige watermassa is en vir mense om nie besope te swem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article