Op ’n ysige Saterdag (26 Augustus) was Aurora al voor sonop in rep en roer.
Fietsryers van heinde en ver kry hul nommers en gaan staan gereed vir die jaarlikse 55 km lange Om die Berg, geborg deur Boland SuperSpar op Piketberg.
Die Om die Berg is ’n bergfiets-uitdaging en prettrap wat deur die NG gemeente Aurora gereël word.
Dié kerk bedien sedert 1906 die gemeenskap in die onmiddellike omgewing van Aurora, terwyl dit ook verskeie liefdadigheidsprojekte en sendingprojekte elders ondersteun.
Aanvanklik lyk die roete maklik en gelyk, maar spoedig maak die roete draaie oor damwalle en tussen landerye deur. Ná die reën van die vorige nag stroom die water op sommige plekke oor die pad. Die roete kronkel deur die veld en by Kapteinskloof moet fietsryers teen steiltes uittrap. Die nou paadjie gaan oor klippe, verby proteabosse en teen steil afdraand af.
Terwyl die gesoute fietsryers al hulle vernuf benodig het om deur water, oor klippe, gate en baie modder Om die Berg te trap, het jonk en oud aan ’n heerlike ontspanne fietstrap tussen die landerye deur deelgeneem.
Vir dié wat nie entoesiasties oor fietse is nie, was daar ’n lenteloop waarin sommige gedraf het, terwyl ander gestap en gesels het.
Die eerste man oor die eindstreep van Om die Berg 2023 was Erhard Blom en die eerste vrou W. Fick.




