Dink jy dit is die moeite werd om na jou foon te loer wanneer jy agter die wiel is? Dink weer.
Bestuurders wie se aandag as gevolg van ’n foon, kos of deur ’n navigasiestelsel afgelei word, is ’n groot probleem op paaie.
Wynand van Vuuren, ’n vennoot van King Price Insurance, verduidelik bestuurders wie se aandag nie op die pad is nie, is een van die hoofredes vir ongelukke in die land.
“Distracted driving is nie net wanneer jy jou foon gebruik wanneer jy bestuur nie. Dit is enigiets wat jou oë van die pad, hande van die wiel, of jou gedagte van die taak afhou, en jou, jou passasiers en ander op die pad in gevaar stel,” sê hy.
Selfs ’n vinnige loer na jou boodskap kan in ’n ramp eindig. Dit neem glo 5 sekondes om ’n kort WhatsApp-boodskap te lees, maar sou jy 90 km/h ry, beteken dit ’n bestuurder se oë was lank genoeg van die pad af om die lengte van ’n rugbyveld te ry.
’n Bestuurder wie se aandag nie op die pad is nie, het minder tyd om te reageer indien iemand of iets voor hulle mag beland.
Stappers op hul foon is net so gevaarlik, veral wanneer hulle oorfone gebruik en nie kan hoor wat om hulle aangaan nie, meen die departement van vervoer en openbare werke.
In ’n vroeëre verklaring het die departement enige afleiding as uiters gevaarlik bestempel.
“Gee asseblief ten alle tye aandag aan die pad, veral as die winter naderkom en sigbaarheid afneem. Geen telefoonoproep of teksboodskap is so belangrik dat dit ’n menselewe werd is nie,” het die verklaring gelui.
Benewens afgeleide aandag is moegheid nog ’n leidende faktoor vir padongelukke. Navorsing het gevind menslike foute is die oorsaak van 8 uit 10 padongelukke in die land. Volgens die Wes-Kaapse regering is moeë bestuurders ’n gevaar op paaie, veral in die geval van langafstand-reise.
Vanjaar het padsterftes oor die Paasnaweek, ’n berugte tyd weens lang reise, gedaal met 30%, met 26 mense wat hul lewens op Wes-Kaapse paaie verloor het.
Kan jou aandag-afgeleide bestuur daartoe lei dat versekeringseise geweier word?
Nie in hierdie stadium nie, sê Van Vuuren.
“Hoewel dit gevaarlik en onwettig is om jou selfoon te gebruik terwyl jy bestuur, is dit soms moeilik om te bewys dat dit die oorsaak van ’n ongeluk is,” sê hy.
“Maar dit beteken nie dat jy dit moet waag nie. Die slotsom is dat ons paaie reeds gevaarlik is, met slaggate, verkeersligte wat uit is weens beurtkrag, en voetgangers wat oorsteek. As jy boodskappe, grimering en padkos byvoeg tot die mengsel, skep jy bloot ’n onhoubare vlak van risiko.”





