Die sprekers en senior personeel is van links Madalet Sessions, Kokkie Kooyman, Emile Janse van Rensburg, Nigel Barnes en Smaragda Krynauw.


PSG Wealth Ceciliastraat en Langebaan het op 23 en 24 Februarie vanjaar beleggingseminare aangebied, met onder andere Kokkie Kooyman (uitvoerende hoof en portefeuljebestuurder van Denker Capital) as spreker.

Die aanbiedings het die vorm van ’n vraag-en-antwoord-sessie aangeneem, met ’n fokus op van die vraagstukke van die dag.

Hardnekkige wêreldwye inflasie was eerste aan die beurt. Sedert die aanbiedings het die VSA se inflasiekoers tot die hoogste vlak in 40 jaar gestyg en is hul repokoers met 0,25% verhoog. Kooyman het in die aanbieding voorspel dat daar minstens ses verhogings van 0,25% elk in die VSA sou wees. Die eerste verhoging is intussen aangekondig.

Die ooglopende vraag was watter sektor of beleggingstyl hierby kan baat vind.

Volgens Kooyman is die finansiële sektor die geskikte kandidaat, aangesien koersverhogings hul winsmarges en so ook hul aandeelpryse sal laat toeneem.

Met verwysing na beleggingstyle, het hy as volg verduidelik: Oor die algemeen is die waarde van ’n maatskappy die verdiskonteerde waarde van toekomstige kontantvloei.

Sogenaamde waarde-aandele se dividende/winste is gewoonlik redelik stabiel, maar groei teen ’n laer koers as dié van groei-aandele. Met groei-aandele is die verwagting dat hul winste (indien enige in die beginstadium) teen ’n veel hoër koers as dié van waarde-aandele sal groei.

Wanneer uitleenkoerse styg, is die huidige waarde van toekomstige dividende/winste van groei-aandele laer, aangesien toekomstige kontantvloei teen ’n hoër koers verdiskonteer word. Die keuse is dus waarde-aandele.

En toe val Rusland die oggend van 24 Februarie die Oekraïne binne. Die aand van die 24ste se sessie in Langebaan was ’n somber affêre. Markte het wêreldwyd geval en oliepryse het die hoogte in geskiet. Kooyman herinner toe van lesse wat die afgelope tyd al ’n paar keer geleer moes word.

Tydens ’n wêreldwye krisis oorreageer markte altyd. In hierdie geval is daar boonop die hartseer van lewensverlies en vernietiging van ’n land se infrastruktuur. Maar soos in die verlede is die herstel in markte gewoonlik spoedig en is kalm bly die regte medisyne.

Kooyman het afgesluit met ’n gesegde van Winston Churchill: “Never let a good crisis go to waste.” In Afrikaans: “Benut die geleenthede wat wisselvallige markte bied.”

. Jac van der Spuy is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by PSG Wealth. Kontak hom gerus by jac@psg.co.za

. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belas­ting-, regs- of beleggings­advies nie en die maatskap­pye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article