Die blommeseisoen is hier en vandeesmaand het besoekers aan Sanparke die geleentheid om die park gratis te besoek.

Sanparke, wat die Weskus Nasionale Park insluit, vier die begin van die jaarlikse blommeseisoen en hulle verwag ’n skouspelagtige seisoen.

“Ons is opgewonde oor vanjaar se blommeseisoen. Hoewel ons ’n aansienlike afname in reënval gedurende die winterseisoen gehad het, behoort die blomme binne die volgende twee tot drie weke in volle blom te wees.

“Tydens Augustus en September sal besoekers aan die park ’n wye verskeidenheid blomme op uitstalling sien – van madeliefies tot bolle. Groot veldeblomme kan ook in die Seeberg- en Mooimaak-gedeelte van die park gesien word,” sê Patricia Bopape, die plaaslike parkbestuurder.

“Besoekers wat die park vir blomme besoek, moet liefs op sonskyndae kom. Naweeksdae is veral besig met besoekerstoue wat ’n opeenhoping in die blommegebiede kan veroorsaak.”

Bopape stel voor besoekers moet beplan om die park in Langebaan op weeksdae te besoek. Die Postberg-reservaat binne die park is veral bekend vir sy blomme. Dié gedeelte van die park is vandeesmaand oop tussen 09:00 en 17:00 met die laaste besoekers wat om 16:30 ingelaat word.

In September sal die reservaat tot 19:00 oop wees, met die laaste voertuie wat 18:30 ingelaat sal word.

Weskussers wat tot September kan wag om die park te besoek, sal van 11 tot 16 September gratis toegang tot die park geniet.

Parke-week word sedert 2006 gevier en is ’n geleentheid vir plaaslike inwoners om pasella besoek aan te gryp.

“Die week is gestig in ’n poging om ’n gevoel van trots vir Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis, beskerm deur die nasionale parkestelsel, te kweek,” verduidelik Hapiloe Sello, waarnemende uitvoerende hoof van Sanparke.. Vir individuele datums om die 22 deelnemende nasionale parke te besoek, besoek die webwerf http://www.sanparks.org/about/events/parks_week/default.php

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article