’n Seun van die vermoorde Jose Camacho (77) van die gebied om die De Boom-glybaan buite Vredenburg meen dat sy moordenaars na iets meer as skape op soek was. Die huis is geplunder in hul soektog na vermoedelik geld, met selfs die matras en kussings wat oopgesny is.
Jose se lyk is op sy verjaarsdag, Woensdag 1 Mei, met kopwonde en meswonde in die rug langs sy kleinhoewe se huis op die plaas Eenzaamheid, gedeelte 37, gekry. Dit is nog nie seker of hy die vorige dag of op sy verjaarsdag vermoor is nie.
Sy seun, Lino Camacho (54), ’n bekende sakeman van die dorp, was die eerste familielid op die skokkende toneel sowat tien treë van die huis af. Sy pa, wat hy met baie liefde “hardkoppig” noem weens sy weiering om van die kleinhoewe af weg te trek, was ’n klein en stil figuur onder ’n silwerkleurige seil.
Lino het Woensdag agt ure saam met die groep polisiemanne vir die Kaapse forensiese eenheid gewag om die werf en huis te begin fynkam. Hy kon duidelik die tekens van ’n geweldige struweling sien. Sy pa was ’n korterige man, maar nog taai. “Hy sou vir sy lewe geveg het.”
Twee kratte wat by die deur gestaan het vol goed soos stock car-trofees, selfoonlaaiers en messe – “goed wat nie geld werd is nie” – bevestig sy vermoede dat die moordenaars dalk net vuurwapens en geld gesoek het.
Vuurwapen vermis
Lino het met sy aankoms op die kleinhoewe nog skape sien rondloop. Hy en die familie is werklik erg ontsteld oor mense se uitlatings en ongegronde bespiegelinge op sosiale media oor die moord sedert die nuus gebreek het.
Lino was maar bekommerd oor die ligging, so naby aan ’n snelgroeiende plakkerskamp, maar Jose wou niks hoor daarvan om die kleinhoewe prys te gee nie. Hy het ’n paar skape, varke, hoenders en ganse aangehou en dit geniet om soggens vir die diere kos te gee.
Jose het alleen gewoon en het ’n .22-geweer besit, wat hy volgens Lino deur die dag by hom gedra het. Dié vuurwapen word vermis.
Sy pa het die laaste jare stil en rustig op die kleinhoewe geboer en hier en daar nog ’n stukkie skrootmetaal verkoop of ’n “deal” gemaak, maar hy was rustig in vergelyking met die besige sakeman en stock car-entoesias wat hy eens was.
Hy was ook bekend in veerpyltjie-kringe.
Jose het vir dekades onder meer Jose’s Scrapyard naby die silo’s gehad. Hy het ook die Welcome- en die Madeira-kafees in Hoofstraat, asook twee viswinkels in Saldanha besit.
Jose het as 17-jarige van die Madeira-eiland by Portugal hierheen geëmigreer en ’n lewe vir hom oopgekap.
Sy eerste vrou, Marie Camacho (75), is in dieselfde tyd verlede jaar oorlede – net ná haar verjaarsdag en net voor Jose s’n.
“Dis ’n goeie ou daai gewees,” vertel sy tweede vrou, Belinda Comacho, wat by Emergency Glass werk en van wie hy dekades gelede geskei is. Hulle het albei stock carsgery. “Hy sou nie twee keer gedink het om iemand te help nie.”
Sy jarelange werker, Pio Moses, se hart is stukkend oor Jose. “Ons het by mekaar gestaan deur die goeie en deur die moeilike tye.”
Ooreenkoms met Christians-moord
Die gemeenskap bespiegel dat Jose se moordenaars dalk dieselfde mans is wat Clint Christians (57) vermoor het omdat die modus operandi dieselfde blyk te wees, maar net die uitslae van die DNS-toetse sal dit kan bevestig, het kapt. Tania, Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, gesê.
Clint, ’n groot vriend van Jose, is minder as ’n maand gelede doodgesteek in ’n rooftog op ’n plaas nie ver daarvandaan nie.
Clint en sy vrou, Liesle Christians (55), is Saterdag 13 April deur twee mans in hul dertigs verras toe hulle van die dorp af gekom het. Die rowers het Clint herhaaldelik gesteek en Liesle is in haar skouerblad gesteek, waarvoor sy steke moes kry. Sy moes kilometers ver hardloop om hulp by die teerpad by Orex te kry, maar dit was te laat vir Clint.
Weens die plaas en kleinhoewe se liggings ondersoek die Saldanha-polisie Clint se saak en die Vredenburg-polisie dié van Jose.
Volgens Dirk Gallowitz, ’n buurman, het twee ander buurmanne die oggend om 10:00 gaan kyk wat aangaan omdat Jose nie sy selfoon geantwoord het nie. Hulle het op sy lyk langs die huis afgekom en die polisie onmiddellik gekontak.
Die uitslag van die lykskouing sou gister (Woensdag 8 Mei) aan die familie bekendgemaak word.
Lino het saam met sy suster, Martinha Woudberg (53), en hul oudste broer, Afredo Camacho (55), besluit dat hulle net ’n privaat familiebegrafnis gaan hou.
. Kontak speursers. Ronaldo Joubert by 079 894 1263 met enige inligting.





