Bejaardes, hul versorgers en kampvegters vir ouer persone se regte het Donderdag (15 Junie) Internasionale dag teen die mishandeling van ouer persone in Saldanha herdenk.
Die bejaardes het die dag met ’n optog in die Saldanhapad begin. Ten spyte van die wind en die reënweer was die groep se boodskap duidelik: geen mishandeling van bejaardes sal geduld word nie.
By die White City-veeldoelige sentrum het beamptes van die polisie, Age in Action, Vital Connection en plaaslike PR-raadslid Eugenia Paulo-Goagoses nuttige inligting gedeel en die bejaardes uitgenooi om te praat indien daar fout by die huis is.
“Baie keer sit ons en krepeer in die huis en niemand weet nie. Reik uit en vra vir hulp. Die moeilike stap is om vir hulp te vra, maar daar is só baie mense en organisasies wat sal help,” het Wina Mostert van Age in Action gesê.
Die mishandeling van ouer persone sluit alles van fisieke mishandeling tot finansiële uitbuiting in. Bejaardes wat gedwing word om na kleinkinders om te sien, wat hul staatstoelae maandeliks aan kinders moet oorhandig en wat bedags gedwing word om heeldag in hul woning te bly, dit alles is bespreek.
Bejaardes wat die geleentheid bygewoon het was van Noordhoek en Hopefield tot Saldanha. Van die bejaardeklubs het selfs van hul talente ten toon gestel met die Green Lillies van Louwville wat ’n sangitem gelewer het terwyl die seniors van Vital Connection in Diazville hulle aërobiese passies gewys het.
’n Dramagroep van Jakkalsfontein, ’n organisasie wat persone met verslawing help, het ’n opvoering gehou oor ’n probleem wat gereeld in plaaslike gemeenskappe kop uit steek – verslaafdes wat hul grootouers afknou om hul verslawing te voed. Volgens Brandon Derricks van die groep was dit juis by sy ouma wat hy gewoon het voor hy besluit het om sy verslawing agter te laat.
Esmeralda McKay, woordvoerder van die staat se kommunikasiediens (GCIS), het dit benadruk dat ’n ondersteuningsnetwerk deur middel van geleenthede soos Donderdag geskep word.
“Hierdie is jul goue jare. Dit is nie die tyd om kleinkinders groot te maak of om elke dag te huil en bekommerd te wees nie. Indien jy mishandel word, of iemand ken wat hierdeur gaan, reik uit na die polisie en maak ’n klagte. Indien dit dalk beteken jy moet jou eie kind of familielid tronk toe of na ’n rehabilitasiesentrum stuur, is dit dan só. Hierdie is genadetyd wat julle gegun is,” het sy aangevoer.





