’nBejaarde paartjie het in hul huis doodgebrand terwyl reddingswerkers gesukkel het om die diefwering oop te breek.
Die voorval het Vrydagaand (4 November) in Darling plaasgevind.
Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het reddingswerkers uiteindelik daarin geslaag om die brandende huis in te gaan, maar dit was reeds te laat vir Frank Johnson en Dorothy Brink.
“Hulle liggame is heeltemal verkool,” het Filander gesê.
Die vermoede is dat Brink besig was om kos te maak “toe iets skeefgeloop het.”
Filander sê Johnson en Brink se blyplek is nie die enigste struktuur wat brandskade opgedoen het nie, aangesien twee ander wonings op dieselfde erf ook beskadig is. Die ander inwoners kon egter vinnig genoeg uit hul wonings ontsnap en is ongedeerd.
Johnson se dogter, Ellouise Adonis, voel die brandweer het te lank geneem om op te daag en glo haar pa en sy lewensmaat sou moontlik gered kon word as die brandweer vroeër op die toneel aangekom het.
Adonis, wat by ’n mikrolening-maatskappy in die dorp werk, sê sy gaan haar pa mis. Hy het elke dag by haar werk opgedaag om ’n bietjie met haar te gesels. Hy het ook graag voor toemaaktyd daar aangekom sodat hy saam met haar huis toe kon stap.
“En as hy dit nie kon maak nie, het hy altyd ná werk ’n draai by my huis kom maak,” sê sy.
Volgens Adonis was haar pa ’n grappige mens en ’n bekende in die gemeenskap, omdat hy nogal uitgesproke was oor sekere kwessies – veral toe hy jonger was. Hy was ook baie trots op sy drie kinders en 11 kleinkinders.
Adonis sê haar ma is lank terug oorlede en hoewel sy en haar sibbe nie ’n hegte verhouding met Brink gehad het nie, het hulle haar as hul pa se lewensmaat aanvaar en respekteer.
“My pa en Dorothy was baie jare saam en lief vir mekaar, maar was nie getroud nie,” verduidelik Adonis.
Volgens Filander is ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen.



