Dit was ’n dag van samesyn, vrolikheid en goeie sportmanskap by die bejaardes se Goue Spele- geleentheid wat op Saterdag 1 Maart plaasgevind het.
Verskeie bejaardeklubs in die Weskus het byeengekom by die Vredenburg- sportterrein om aan talle sport-aktiwiteite deel te neem. Volgens Sakkie Mentoor, ondervoorsitter van die Green Lillies en voorsitter van die Saldanhabaai-munisipaliteit se Senior Forum, was die doel van die dag om bewusmaking te skep vir diegene wat nog nie ’n lid van ’n klub is nie en ook om die bejaardes te wys dat om ’n gesonde lewe te lei en te handhaaf volhoubaar kan wees.
“Die belangrike ding was ook om te wys dat hulle nie alleen tuis hoef deur te bring nie en dat daar soveel dinge is wat hulle kan doen, en sport is een daarvan, asook om die natuurlike oudword-proses so ’n bietjie te vertraag. Sport vra nie hoe oud is jy is nie en dis die belangrikste wat bejaardes moet weet.”
Met heerlike musiek het die groepe behoorlik hul litte los geskud. Hoogte- punte vir die dag was die pretdrag- resies, die 50 m hardloop met groot klere en groot skoene aan. Die Saldanhabaai-munisipaliteit Senior Forum-komitee bedank elkeen vir hul bydrae tot die sukses van die dag.




