Die grondpad waar David Vraagom (84) verkluim het.Foto: Verskaf


’n Legende van die plaas Holvlei op die Jacobsbaai-pad het Sondagaand alleen en verdwaald op ’n verkeerde grondpad van die winterkoue omgekom.

David Vraagom (84) het nog Sondag 18 Junie Vadersdag saam met sy dogter Minnie Vraagom (49) op die naburige plaas, Oranjevlei, gevier.

Sondagaand ná ’n lekker ete en kuier by Minnie en haar gesin het familielede David en twee van sy kleinkinders by die “skaalkantoortjie” op Holvlei se werf afgelaai. Presies hoe David van sy kleinkinders geskei geraak het en nie die pad na sy huis kon kry nie, is onduidelik, maar dit was die laaste keer dat iemand hom lewend gesien het.

Minnie vertel dat die kinders by hulle huis op Holvlei aangekom en gevra het of Oupa daar is, maar hy was nie. Almal het hierna gaan kyk of hy nie by sy huis, waar hy alleen gewoon het, is nie. Hy was ook nie daar nie.

Dit het ’n grootskaalse soektog na hom tot gevolg gehad met sy kinders, kleinkinders, ander plaaswerkers en werkers van die sandmyn op die plaas wat onverpoosd gesoek het, maar hulle kon hom nêrens kry nie.

Teen Maandagaand was David steeds nie tuis nie.

Dinsdagoggend het die familie hom by die polisie op Saldanha as vermis gaan aanmeld, waarop die polisie met die soektog gehelp het. Hulle het hom op ’n grondpad naby die drie bekende versukkelde huisies op die Jacobsbaai-pad gekry, waar hy dood in die grondpad lê, vermoedelik verkluim.

Klasie Loubser (68), die eienaar van Holvlei, gaan David met nostalgie onthou, want vandat hy wat Klasie is, gebore is, was David daar. 

Verskeie van David se kinders, saam met wie Loubser
grootgeword het, werk steeds op Holvlei.

“Hy het vir my pa gewerk en nadat ek in Desember 1980 plaas
toe gekom het om te kom boer, het hy vir my gewerk. Hy was ’n legendariese
werker – goed met alles, trekker ry, ploeg . . . hy was ’n hardwerkende man.”

Volgens Loubser was David die laaste paar jaar maar ’n
bietjie deurmekaar en is hy ’n paar keer weens hoë bloeddruk in die hospitaal
opgeneem.

“Hy moes Sondagaand die pad heeltemal byster geraak het en
met die reën en koue het hy dit nie gemaak nie. Soos ek verstaan, het hy al
voorheen ook weggeraak.”

Minnie vertel hy was baie lief vir sy kinders – vier dogters
en drie seuns, en al sy kleinkinders. Hy het sedert sy aftrede ’n paar dekades
gelede elke dag by haar kom kuier.

Minnie sê sy sal haar pa onthou as streng en reguit, maar
voeg by sy gaan hom ontsettend baie mis – veral sy daaglikse kuiertjies.

Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die
Weskus-distrik, het bevestig David se dood word ondersoek, maar bygevoeg geen
misdaad word vermoed nie.

David word Saterdag 1 Julie begrawe.

Wyle David Vraagom (84).Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article