Ray van Rooy, burgemeester van Bergrivier-munisipaliteit.


Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se begroting vir 2022-’23 tot 2024-’25 is op 31 Mei by ’n raadsvergadering in Piketberg goedgekeur.

Ray van Rooy, burgemeester van BM, het in sy toespraak tydens die vergadering gesê hierdie begroting wat buitengewone hoë tariefverhogings insluit, word goedgekeur te midde van moeilike ekonomiese uitdagings wat alle inwoners raak.

Hy het hiermee verwys na die stygende prys van elektrisiteit en brandstof sowel as beurtkrag en lewenskoste wat onbekostigbaar duur raak.

Van Rooy het egter verduidelik dat die bogemiddelde tariefverhogings onvermydelik is.

Hy het gesê die BM se inkomstestrome neem steeds af sedert die aanvang van die pandemie en bly moeilik om in te vorder.

Volgens hom was die munisipaliteit genoodsaak om met die aanvang van die Covid-19-pandemie in 2020 laer as die gewone tariefverhogings in te stel, hoewel die koste om die dienste te lewer eksponensieel hoër was as die inkomste wat daaruit ontvang is.

Die BM moet dus nou die verlies inhaal en tariewe bogemiddeld verhoog om te verseker dat die werklike koste van dienslewering van diegene wat van die dienste gebruik maak, verhaal word.

Die voortgesette styging in die prys van elektrisiteit bly ’n bekommernis en dra ook by tot die stewige tariefverhogings.

Daar is ’n paar veranderinge gemaak in die konsepbegroting en personeelbegroting en Van Rooy het ’n beroep op BM se amptenare gedoen om aandag te skenk aan verskeie kwelpunte, onder meer die instandhouding en opgradering van sportgeriewe; opgradering van die speelparke; instandhouding van paaie asook gemeenskapsgeriewe en munisipale geboue; integrasie van verskillende stelsels en verbetering van kliëntediens.

“My opregte dank aan elke inwoner wat die wyksvergaderings in hul onderskeie wyke bygewoon het en ook hul insette gestuur het,” het Van Rooy gesê.  

“Ten slotte wil ek graag alle lof en dank aan ons Hemelse Vader gee wat ons bemagtig het om hierdie begroting goed te keur.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article