“Die op en wakker gemeenskap verdien ’n groot dankie.”
Só reken AO Yolanda Kotze nadat die gemeenskap in Hopland Diazville in Saldanha ’n verlate voertuig in hul woonbuurt by die polisie aangemeld het.
Volgens Kotze is die bakkie Woensdag 1 Junie in die donker oggendure deur lede van die gemeenskap gevind.
Die polisie het gaan ondersoek instel en vermoed die voertuig behoort aan die maatskappy AR Jones Engineering in Saldanha, aangesien ’n plakker met die onderneming se naam op die bakkie was.
Speurders is toe na AR Jones Engineering se perseel in Platinumstraat, waar hulle ontdek het inbrekers het ’n deur oopgedwing en toerusting gesteel.
Derduisende rande se elektriese toerusting en masjinerie is uit die werkswinkel weggedra nadat die diewe alles blykbaar in die maatskappyvoertuig gelaai en daarmee weggery het.
Die eienaar van die maatskappy is omstreeks 07:45 van die slegte nuus verwittig.
Volgens Kotze kon die polisie egter gou uitvind waarheen die bakkie ná die inbraak gery het danksy die voertuig se ingeboude opsporingstelsel.
Die opspoorder het verklap dat die voertuig in Marikana, Middelpos, was voordat dit in Hopland Diazville agtergelaat is.
Skaars ’n paar uur ná die inbraak het die polisie se ondersoek hulle na ’n sinkhuisie in Marikana geneem waar al die goedere aangetref is.
Die polisie volg nog wenke op om die skuldiges vas te trek.
“Alles is vanweë puik polisiewerk teruggevind, maar ons moet ook ’n groot pluimpie aan die gemeenskap gee wat so vinnig opgetree het om ’n verdagte voertuig in hul midde aan te meld,” het Kotze gesê.
“Die gemeenskap is die polisie se oë en ore. Die onmiddellike aanmelding van enige verdagte mense of aktiwiteite maak ’n reuseverskil. Die skelms kan dalk nog op heter daad betrap word.”
Antonio Rodriques Jones, eienaar van die maatskappy, het die polisie bedank vir hul vinnige optrede, wat daartoe gelei het dat sy werkswinkel se inhoud en voertuig spoedig teruggekry is.
“Wees asseblief versigtig,” het Jones ander plaaslike sakelui teen toenemende inbrake in die gebied gewaarsku.





