Die telling kan maar wat wees, maar die manne het gewis die moed, die wil en die belangrikste van alles – die hart.
Steenberg’s Cove-rugbyklub, wat maar drie weke gelede die groen lig van Boland-rugbyunie (BRU) gekry het om by die unie aan te sluit, het nou twee wedstryde agter die rug teen klubs wat in Boland se topliga speel. Die Cove, wat heel onder sal begin, sal sy pad moet oopspeel om ook met die Big Boys te bamba.
Die span van Anthony Afrika het Saterdag teen Vredenburg se Burg Boys gespeel en is in die laaste 40 minute behoorlik van hul voete gespeel. Vredenburg het wel die wedstryd 52-0 gewen, maar moes in die eerste helfte hard sweet om teen rustyd 14-0 voor te wees.
Die Agterbaai se nuwe klub, wat meestal uit jong onervare spelers bestaan, het egter nie teruggestaan vir die Burg se groot spelers nie en hul doelgebied soos dapper krygers in die eerste helfte met goeie verdediging beskerm.
Dat harde werk voorlê, is ’n gewisse feit, het Afrika gedurende die wedstryd erken. “Ons is nie bang om Boland se Big Boys te pak nie, want dit is hoe ons gaan leer,” erken hy.
Die span het in die wedstryd gewys hy het gewis die hart en die tuisspan moes van tyd tot tyd ook hard verdedig om die nuweling te keer.
Dissipline en hanteerwerk is van die grootste uitdagings wat die afrigtingskorps in die gesig staar aangesien goeie bewegings in die eerste helfte verlore gegaan het weens hanteerwerk of swak dissipline.
Die Cove-span se veel ligter agttal het die tuisspan se swaarder voorspelers ook by tye behoorlik in die vaste skrums laat les opsê.
“Ons het baie beserings in die tweede helfte gehad, wat ons spelpatroon sonder twyfel ontwrig het, maar dit is nie ’n verskoning nie,” het Afrika gesê.
Krediet moet aan die tuisspan gegee word vir hul nooit-opgee-nie-houding tydens die wedstryd.
Die Burg Boys het met die afskop in die tweede helfte na ’n hoër rat oorgeskakel en die besoekers het eenvoudig nie antwoorde vir die tuisspan se vrae gehad nie.





