’n Klein vegtertjie van Vredenburg het baklei om met sy tweelingbroer herenig te word.
Lupé Niklaus Jacobs en sy ouer tweelingbroer, Arden, is op 1 Maart op 33 weke te vroeg gebore. Volgens hul ma, Allyshia Adams, het Lupé moeiliker in die buitewêreld aangepas en moes hy suurstof kry.
Vir hul eerste paar dae was albei in die neonatale waaksaal by die Weskus Life-hospitaal. “Ek het my babas eers drie dae nadat hulle gebore is, gesien aangesien ek ook komplikasies ná die keisersnee gehad het,” vertel Adams.
Sondag 6 Maart is ’n infeksie in sy derms by Lupé gediagnoseer. Hy is later na Mediclinic Louis Leipoldt in Kaapstad oorgeplaas. By dié hospitaal aangekom het ’n span spesialiste, dokters en verpleegsters ons seuntjie begin ondersoek en tot die besef gekom dat hy baie sieker is as wat hulle gedink het, vertel sy.
Dáár is nekrotiserende arteriolitis (NEC) by Lupé gediagnoseer en moes hy ’n noodoperasie ondergaan.
Dit was ’n moeilike stryd ná die operasie met die kleintjie wat ’n stoma moes kry en sewe dae lank aan ’n ventilator gekoppel moes wees.
Lupé, wat tans tuis aansterk, se mediese onkostes beloop reeds duisende rande en ’n BacknBuddy is intussen begin om met die kostes te help. ’n Geldinsamelingsprojek is ook onlangs by Weskus Mall gehou. Volgens Jyson Julies, een van die organiseerders van die geleentheid, was dit wonderlik om die reaksie te sien. “Ons het gedink dit gaan ’n kleinerige geleentheid wees, maar die dag was baie suksesvol,” meen hy.
. Om meer uit te vind oor Lupé se stryd besoek https://www.backabuddy.co.za/lupe-jacobs




