Min dinge is so kommerwekkend vir ’n ouer soos ’n pasgebore baba met koors en wat boonop sukkel om asem te haal.
Volgens ’n studie wat vroeër vanjaar deur die Boston-universiteit in Amerika bekend gemaak is, is byna een uit elke tien babas wat in hul eerste ses maande sterf, met respiratoriese sinsitiaal-virus (RSV) besmet.
Ongeveer 72% van die sterftes was by babas onder drie maande oud.
Ouers is dikwels in die middernagtelike ure wakker met hul siek babas en wik en weeg of hulle die kleintjie moontlik na die hospitaal se ongevalle-eenheid moet neem of nie.
Dr. Susan Annandale, ’n pediater van Vredenburg, sê dit is belangrik om altyd waaksaam te wees wanneer dit by jou kind kom en om met die regte kennis bemagtig te wees.
Sy gee die volgende raad:
Hou dop vir hierdie belangrike gevaartekens:
Koors,
veral as ’n baba jonger as drie maande is:
– Die baba het ’n swak reaksie op doeltreffende dosisse koorsmedisyne;
– Jou kind raak progressief sieker en meer slaperig;
– Hy of sy eet en drink nie meer nie.
A
semnood:
– Hou neusvleuelbeweging en gebruik van asemhulpspiere dop.
– Hy of sy ervaar konstante vinnige asemhalingspoed,
– kind is rusteloos, steun,
– borsie fluit,
– velkleur verander.
Dehidrasie:
– Baba braak aanhoudend,
– gebruik min doek,
– uriene is gekonsentreerd,
– droë lippe, ingesonke oë en lusteloosheid
Babas is meer vatbaar vir infeksies
“Babas se immuunstelsels is nog in die proses van ontwikkeling,” verduidelik dr. Annandale.
“Dit maak hulle meer vatbaar vir infeksies, veral respiratoriese infeksies. Blootstelling aan ’n klomp ander kinders soos in ’n dagsorgsentrum kan problematies wees.”
Sy sê die meeste infeksies is viraal van aard. Party babas is ook meer geneig tot brongiolitis (baba-asma) as ander. Brongiolitis is ’n inflammatoriese reaksie in die kleiner lugweë – gewoonlik ná ’n virale infeksie van die boonste lugweg.
Volgens Annandale kom dit dikwels in die winter herhaaldelik voor (met elke verkoue), en baie kinders eindig met ’n klomp onnodige antibiotika-voorskrifte.
“Let op die gevaartekens vir asemhalingsprobleme en kry betyds mediese hulp, want dit kan akuut vererger.”
Dr. Annandale se raad
Wanneer jou kind asemnood of koors ervaar wat nie wil breek nie, neem die baba liefs so gou as moontlik hospitaal of dokter toe.
As ’n kind goed op koorsmedisyne reageer, voldoende eet en drink, en nie andersins siek lyk nie, kan hulle meestal met veiligheid tuis dopgehou word (sonder onnodige kursusse antibiotika).
As sodanig is dit nie noodlottig nie, en net ’n klein groepie kinders kry koorskonvulsies, wat selde verband hou met toekomstige epilepsie. Met enige van die gevaartekens moet ’n mediese mening ingewin word. Ouers behoort altyd koorsmedikasie byderhand te hê. Maak seker van die dosisse wat jou kind benodig. Orale rehidrasievog is iets wat jy in jou medisynekas moet hê.
“Kyk met aandag na jou kind, hoe hy of sy optree, asemhaal, eet en drink. Daar is gewoonlik meer as genoeg waarskuwingstekens as iets nie reg is nie,” sê dr. Annandale.
Skakel die praktyk by 022 719 1393.



