Toneelliefhebbers kan uitsien na die komiese en moderne vertolking van die ou klassieke sprokie Aspoestertjie, met ’n paar nuwe kinkels in die kabel.
Cinderella vanni Burg is ’n humoristiese toneelstuk, geskryf deur Gerda Wessels en vervaardig en geproduseer deur Simoné Dreyer en Cherisse van der Merwe. Die stuk word Donderdag 11 Junie om 18:00 by die Hoërskool Vredenburg in samewerking met Die Koelkamers opgevoer.
Cinderella vanni Burg vertel die betowerende verhaal van William Windsor, die welgestelde erfgenaam van Charles en Camilla Windsor, wat graag sy matriekafskeid saam met sy vriende wil bywoon. Sy invloedryke ouers dring egter daarop aan dat hy ’n meisie vra om hom te vergesel. By ’n regte Weskus-sokkie in die Hoërskool Vredenburg se saal ontmoet hy Cindy, die meisie van sy drome.
Maar wanneer die klok twaalfuur slaan, verdwyn Cindy skoonveld.
Gaan William ’n metgesel vir die matriekafskeid vind en moontlik Cindy se hart steel?
Hierdie vermaaklike toneelstuk, wat in die hartjie van die Weskus afspeel, gaan gehore met sy humoristiese weergawe van plaaslike kultuur en karakters aan die skater hê.
Volgens Dreyer is hul doelwit met hierdie jaar se toneelstuk om iets op die planke te bring wat vir oud en jonk ewe vermaaklik sal wees.
“Die stuk word in Afrikaans en Engels opgevoer. Ons wil die wese van die Weskus-gemeenskap vasvang en leerders van graad agt tot 12 inspireer om deel te raak van kultuur.”
Die opvoering word Donderdag 11 Julie om 18:00 by die Hoërskool Vredenburg gehou.
Kaartjies is te koop by Quicket en pryse is R50 en R70.
Besoek die Hoërskool Vredenburg se Facebookblad of Die Koelkamers se webtuiste vir nog inligting,.



