Die Saldanhabaai-munisipaliteit se junior jeugraad moedig die gemeenskap aan om deel te word van hul plaaslike projek om sanitêre ware in te samel.

Die jeugraad, in samewerking met Pick ’n Pay Vredenburg (Ipic-sentrum), het die projek van stapel gestuur met die doel om sanitêre produkte aan meisies by skole in die Saldanhabaai-distrik te skenk. Die burgemeester van die munisipaliteit se jeugraad, Sumari Smit, sê Pick ’n Pay sal vir elke pak Simply Dry- sanitêre doekies wat die publiek koop, dieselfde getal pakke aan skole skenk.

Die Simply Dry- sanitêre doekies kos slegs R7 per pak.

“Pick ’n Pay se aanbod om dieselfde aantal te skenk as wat hulle verkoop, sluit Vrydag 30 September. Hierdie projek is van kardinale belang,” sê Smit. “Dit is nie altyd vir meisies en jong vroue maklik om toegang tot hierdie basiese behoefte te hê nie. Dit kan weens verskeie redes wees. Een daarvan is finansiële druk.”

Smit sê dit is die rede waarom die jeugraad versoek dat almal wat kan, hierdie projek ondersteun.

’n Houer is voor die ingang van Pick ’n Pay aangebring waarin mense pakke sanitêre doekies wat hulle gekoop het, kan ingooi.

Sanitêre doekies kan ook by ’n skool van jou keuse afgelaai word.

“Doen die regte ding. Maak vandag nog ’n verskil in ’n jong meisie se lewe,” pleit Smit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article