Die gebied om die dam in Welgemoedstraat naby Huis Wittekruin en die Vredenburg-dierehospitaal, waaroor Weslander verlede week berig het (“Riete, haweloses by dam weer probleem”, 27 Junie 2024), word volgens ’n rooster skoongemaak.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit het in reaksie op ’n navraag oor die kwessie verduidelik dat aktiwiteite op en om die dam beperk word tot periodieke instandhouding, soos beplan.
Die rede is omdat baie verskillende soorte voëls en ander dierspesies deel van die dam se ekostelsel is.
Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder vir die SBM, is dié stormwaterdempingdam ’n natuurlik gevormde depressie in die grondformasie. “Die primêre instandhoudingsaktiwiteit by hierdie dam is om voldoende kapasiteit te verskaf om stormwaterafloop, wat van paaie en aangrensende erwe af vloei, op te dam om gelokaliseerde oorstromings te versag.
Inwoners word aangemoedig om die wetstoepassingsdepartement direk by 022 701 6912 te bel oor enige oorlas wat in dié openbare ruimte ervaar word.




