Saldanha se laaste wedstryd in die Boland-grootuitdaagbeker-reeks het Saterdag op sy tuisveld skandalig geëindig toe die wedstryd ná slegs 10 minute in die tweede helfte deur die skeidsregter afgelas is.
Die wedstryd, wat van die afskop af gemoedere getoets het, het ook in die eerste helfte drie geelkaarte opgelewer.
Saldanha, die verdedigende kampioen, moes net twee punte uit die wedstryd kry om weer as die Weskus-streekkampioen gekroon te word.
Die gelykopstryd het begin met die tuisspan wat eerste bloed geruik het met ’n strafskop. Met die dissipline aan beide kante wat gelol het, het St. Helenabaai sake gelykgemaak met ’n strafskop.
Beide spanne het mekaar deeglik op die aanval en verdediging getoets, maar die span uit die Agterbaai was meer op die voorvoet as hul teenstaanders. Die Agterbaaiers het gaan water drink met die telling 6-13 in hul guns.
Die verdedigende kampioen het ná lemoentyd weer eerste punte aangeteken met nog ’n strafskop om hul agterstand tot vier punte te laat krimp voordat alle hel losgebars het.
Twee spelers – een van elke span – is van die veld gejaag met rooikaarte nadat iemand vermoedelik in ’n St. Helenabaai-speler se gesig gespoeg en die vloeke gewaai het. Die twee spelers het mekaar naby die kantlyn gegryp en behoorlik appels geswaai. Gevolglik het die wedstryd buite beheer geraak, met byna almal – en selfs ’n toeskouer – wat betrokke geraak het.
Met die telling 9-13 in St. Helenabaai se guns bly die uitslae staan tot ’n tugverhoor anders besluit.
Mamre het Saterdag op sy tuisveld Vredenburg se Burg Boys met 41-27 geklop om ook sy een hand op die streektitel te plaas. Mamre moet Saterdag St. Helenabaai met ’n bonuspunt troef om die kampioen te wees. Die groen truie van Kenny Stadler het die besoekers laat les opsê. Vredenburg se swaarder agttal kon ook nie die mas opkom in die vaste skrums nie. Mamre, wat tans stert in die lug loop, sal sy eerste verskyning in die uitspele maak.
Volledige uitslae: Saldanha 9-13 St. Helena (afgeblaas), Mamre 41-27 Vredenburg, Langebaan 34-29 Paternoster en Young Hearts 41-18 Koringberg.
Die naweek se program: Paternoster t. Velddrif, Vredenburg t. Hopefield, St. Helena t. Mamre, Young Hearts t. Langebaan en Piketberg t. Koringberg. Swartland: Abbotsdale t. Villagers Wittewater.





