Florina Adams (middel) saam met haar vyf seuns. Agter: Anthon Adams, Ray van Rooy en Neville Adams. Voor Jaybee Adams (links) en Jaques Adams.


Die gemeenskap van Piketberg rou oor die afsterwe van Florina Adams (74).

Dié Piketbergse inwoner was by baie mense bekend as “antie Meisie”. Adams, die ma van Bergrivier se burgemeester, Ray van Rooy, is Sondag (3 Maart) aan longkanker oorlede. Sy was nie ’n roker nie.

Boodskappe van medelye van die gemeenskap stroom nou nog in vir die Van Rooy- en Adams-familie.

Sy is op 15 Augustus 1949 gebore en het in Piketberg as die oudste kind van Naomi en Jack Benjamin grootgeword. Sy is op ’n jong ouderdom uit die skool om haar ouers te help om na haar jonger broers en susters om te sien. Sy was ’n huishulp en het in winkels gewerk, waarvan Liebco Vleishandelaars een was.

Van Rooy vertel sy ma het gereeld haar laaste gegee om haar medemens te help. “En as sy nie gehad het nie, het sy sommer gaan leen om iemand in nood te help. Sy sou sommer by ons huis suiker of brood of iets te ete kom vra, dan is dit nie eens vir haar nie, maar vir iemand anders,” vertel hy.

Van Rooy sê hy gaan sy ma se teenwoordigheid by sy byeenkomste vir die gemeenskap baie mis. “Dit wat ek vandag doen, het ek by haar geleer. Sy was die omgeevrou in Piketberg vir ander mense wat swaargekry het. Sy het op ons verjaarsdag vir ons kom sing, ’n teksvers gelees en dan ook haar boodskap gegee.”

Adams word as ’n vriendelike en omgeemens beskryf. Sy het ’n liefde gehad vir die kerk en haar altyd oor die bejaardes en jonger kinders ontferm.

Die lesse wat Adams by Van Rooy en sy broers gelaat het, is om respek te toon aan ander, hul naaste lief te hê en nie op ander neer te sien of hulle af te kraak nie.

“Sy was vir my soos Moeder Theresa. Wanneer ek af gevoel het, het sy my opgebeur. Sy het vir my die voetspore gelê om te volg vir God se werk en my gemeenskap.”

Die huisdiens word Saterdag (9 Maart) om 10:00 by Katjiepieringstraat 19, Piketberg, gehou, en die kerkdiens Sondag (10 Maart) om 11:00 by Mount Olive AME kerk, Piketberg.

Adams laat ’n broer, ’n suster, vyf seuns, 26 kleinkinders en 15 agterkleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article