Dis maar altyd moeilik om afskeid te neem, maar soos Anita Senekal se^: “Vier elke einde; dis die voorloper van ’n nuwe begin”.

En soos ’n goeie vriendin van die Senekal-gesin sê: “Elke ding het sy vaste tyd”, en hierdie tyd om “tot siens” te sê, het nou aangebreek.

Anita, ’n veteraan-skoonheidskoningin wat haar eie modelskool in die Weskus bedryf het, verhuis binnekort saam met haar gesin na Namibië.

Sy groet die streek en sy mense met die volgende boodskap:

“Sekere mense en plekke groei in ’n mens se lewe in – iemand of iets aan wie jy jou van tyd tot tyd kan toevertrou; waar jy altyd welkom voel; altyd veilig voel.

“Die Weskus was my tuiste vir 10 jaar en so baie mense het in my hart ingekruip. Waar begin ek weer dankie sê? Waar begin ek groet?

“Elkeen van ons loop ’n lewenspad, en ons paaie is nie altyd vol helder liggies sodat ons presies kan weet waarheen ons reis nie. Ek het probeer om nooit te oordeel as iemand van die pad af foeter nie, want ek is soms maar self ’n vrot bestuurder!

“My jare hier in die mooie Weskus was ook ’n lewensreis waarvan baie kilometers op ‘my lewensbus’ deurgebring is. Ek het so baie mense en vriende ontmoet – wat saam met my gereis het, saam met my opgeklim en later weer afgeklim het. Jy bly ’n deel van my reis en dankie dat jy daar was; jy bly spesiaal.

“Die kinders/modelle wat op my reis saam met my op die bus geklim het, was altyd die heel belangrikste. Ek het probeer om vir elke kind vlerke te gee sodat hulle met hul drome soos arende na die kruin van hul lewe kan vlieg. Ek het probeer om ’n ‘ligpad’ vir ons gemeenskapskinders te skep sodat hulle veilig by hul drome kan uitkom, en as hulle soms van die pad af sou foeter, het ek met noodhulp nader gestaan. Dit was ‘TLC’, of tender, love and care of You can do this, never give up!

“En, soos die wiele van die bus gedraai het, so het die wiele van die lewe ook bly draai. Weskus-mense was – en is – sterk genoeg om saam te bly draai. Weskus-mense is die sout van die aarde; mense wat omgee vir mekaar; mense wat vir mekaar ’n plek in die son gun; mense wat omgee vir ander; mense wat nie wedywer of snobisties is nie. En al was ons dalk somtyds onder, het ons altyd weer bo uitgekom.

“Alle ervarings was nie noodwendig altyd positief nie, maar dit was nodig – nodig om die reis vorentoe met nuwe moed aan te pak, want daar sal altyd weer ’n nuwe môre kom.

“Die mense het deur die jare in my lewe ingegroei en in my hart staanplek kom maak. My kollegas by die gastehuis en radio was mense aan wie ek my van tyd tot tyd kon toevertrou. Wanneer die horison dalk donker gelyk het, kon ek altyd staatmaak op my personeel en bestuur om die tekens van lig te soek om die ligpad weer te kan vind.

“Aan die begin van my reis as model, model-afrigter, radio-omroeper, mentor – noem my wat jy wil – het ek jou as my anker gehad. Dankie dat jy in my geglo het, my altyd met ope arms ontvang het, my altyd bygestaan het met elke projek, event en my soos ’n queen ontvang het wanneer ek by jou onderneming of skool ingestap het.

“Ek wil graag baie dankie se^ vir so baie vriendskappe en ondersteuning, opreg en getrou. Ek wil graag baie dankie se^ vir almal wat my gehelp het om weer op te staan as ek geval het. Ek wil graag baie dankie se^ vir soveel hulp as ek verward was of vasgehaak het. En al spoed die jare oor ons heen, sal my reis by jou, ons Weskus, altyd in my gedagtes en in my hart bly.

“Ek wens vir julle elkeen die moed van die son toe wat elke dag opkom en helder oor almal skyn. Ek wens vir julle elkeen ingebore sterkte en krag toe om deur duisternis die sterre te kan sien blink. Mag die Weskus se ‘gentlemen’ en ‘gentlewomen’ die streek net mooier maak met eienskappe soos empatie, regverdigheid, eerlikheid, integriteit, nederigheid en goeie maniere. Begin elke dag om jul afhanklikheid van ons Hemelse Vader te erken, want sonder Hom is ons tot niks in staat nie. Plaas hierdie mooie Weskus en sy mense in Sy hande, om dit steeds ‘die beste gemeenskap vir die regte redes’ vir die toekoms te maak.

“My beste wense vergesel julle op die pad vorentoe! Ek groet u ’n ieder en ’n elk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article