Nà meer as ‘n dekade se stilte is André Huysamen terug met sy nuwe solo-enkelsnit, “Rooiwynlippe”.
Hierdie liedjie met ‘n aanloklike ritme en lekker saamsing-lirieke is klaar op pad om in elke luisteraar se kop vas te steek.
“Ek kon nie aan ‘n beter liedjie as ‘n solo-vrystelling dink om hierdie nuwe hoofstuk mee af te begin nie,” sê André.
André is in 2014 vir Bok Radio se Bokkie-Toekennings as Nuweling van die Jaar benoem. Kort daarna het hy besluit om sy mikrofoon tydelik weg te pak.
“Teen daardie tyd het ek al drie albums uitgereik en oral deur die land getoer. Ek was emosioneel en fisiek uitgebrand en het besef ek moet ‘n tree teruggee as ek ooit weer met opregte passie wou terugkeer. Daardie besluit het my lewe verryk – ek het ongelooflike hoogtepunte in my studies, loopbaan en persoonlike lewe bereik. Ek het ook geleer om die tydsberekening van my lewe te vertrou. Alles gebeur op die regte tyd, met ‘n groter doel. Nou, op 40, kan ek dit meer waardeer vir wat dit werklik is.”
Huysamen het in 2024 die kragtige duet “Vat My Saam” saam met Tiaan Grundling vrygestel. Die liedjie het wyd opslae gemaak en die tweede plek op die Suid-Afrikaanse iTunes-treffersparade verower. “Dit was vir my ‘n bevestiging – die beste lê regtig nog voor,” sê hy.
Met die winter op hande glo André “Rooiwynlippe” is die perfekte klankbaan vir koue aande en ‘n glasie wyn.
En André se gunstelingwyn?
“Sonder twyfel Darling Cellars se Chocoholic Pinotage – en nee, hulle be- taal my glad nie om dit te sê nie,” lag hy.
“Rooiwynlippe” is nou op alle digitale platforms beskikbaar.
Want to comment on posts, engage with fellow readers, and submit stories, letters, feedback and more?





