As jy nog ’n analoogtelevisie gebruik, het dit nou tyd geword om ’n digitale slimtelevisie aan te skaf aangesien analoogtelevisie binnekort afgeskakel gaan word. Foto: Ter illustrasie


Analoog-televisie sal binnekort landwyd afgeskakel word.

Het jy voorbereiding getref?

Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het onlangs sy inwoners hiervan op sy webtuiste en Facebookblad bewus gemaak en plaaslike hulpbehoewende huishoudings wat nog analoogtelevisie het, aangemoedig om aansoek te doen vir ’n gesubsidieerde toestel wat analoogsein na digitale sein omskakel.

Die sperdatum vir die aansoeke is 30 September. Alle huishoudings wat ’n gesamentlike inkomste van R3 200 per maand of minder verdien en wat oor ’n werkende analoogtelevisie beskik, kwalifiseer om hierdie toestel gratis te ontvang.

Huishoudings met ’n inkomste wat hoër is as R3 200 moet hul eie omskakelingstoestel, dekodeerder of digitale slimtelevisie aanskaf.

Die nasionale minister van kommunikasie, Khumbudzo Ntshavheni, het in Julie gesê ’n nuwe datum vir Suid-Afrika se analoog-afskakeling sal ná September vanjaar aangekondig word.

Die konstitusionele hof het die departement van kommunikasie se voorgestelde datum van 30 Junie om analoog-televisie landwyd af te skakel, twee dae voor die sperdatum as irrasioneel en onwettig verklaar.

Die hofbevel het die vrystelling van spektrum in die oorblywende provinsies vertraag.

Voor die hofbeslissing was SABC-analoogsenders reeds in die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Noord-Kaap afgeskakel.

Die oorblywende vier provinsies, Gauteng, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap sal eers hul analoog-afskakeling op ’n datum wat nog bepaal sal word, voltooi.

Ná die sluitingsdatum van 30 September sal die minister die totale aantal nuwe registrasies teen vordering met installasies evalueer en konsultasies met geraakte partye begin om die nuwe datum vir analoog-afskakeling in die Wes-Kaap te bepaal.

Intussen word Weskus-inwoners wat steeds analoogtelevisie kyk en nie vir die gratis gesubsidieerde toestelle kwalifiseer nie, gewaarsku om nie onkant betrap te word nie.

Vir meer inligting, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 0600 625 458 of skakel 0860 736 832.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article