Besoekers aan vanjaar se KKNK sal kan kies en keur. Met die steun van Absa is iets wat elkeen se beursie en smaak sal pas, op die program.

Die fees vind van Dinsdag 29 Maart tot Sondag 3 April in Oudtshoorn plaas.

Die meer kompakte fees gaan net ’n bietjie anders lyk, maar steeds met feesgangers se gunstelingaktiwiteite, en ’n paar nuwighede. So byvoorbeeld word Baron van Reedestraat nie vanjaar afgesper nie, maar alle feestelikhede skuif oor na die KKNK-feesmark by die De Jager-kompleks in Voortrekkerweg.

Weekkaartjies is nie vanjaar beskikbaar nie, maar almal kan die feesgees in die KKNK-feesmark van 10:00 soggens tot 21:00 saans teen ’n koste van slegs R50 per persoon per dag geniet.

Dink: gesinsvermaak, kosstalletjies, kroeë, speelplek vir die kinders, wynproe, deli-produkte, rondloop, snuisterye – alles terwyl jy die bekende en opkomende musikante en talent op die Castle Lager-verhoog, ondersteun deur Son, van 11:00 soggens tot wanneer die feesmark saans toemaak, geniet.

Die rits bekendes wat die hart- en kuiersnare asook die voete by die Castle Lagerverhoog, ondersteun deur Son, sal roer, sluit in: Demi-Lee Moore, Juanita du Plessis, Karin Kortje, Robin Peters, Granville Michaels, Early B en Justin Vega, asook Ruhan du Toit, om maar net ’n paar te noem.

Vir die jong, jonger en jongste feesgangers word hope kindervermaak aangebied, wat ’n pretpark in die feesmarkgebied insluit.

Die fees bied ook uitstekende programme wat vanjaar by die Laerskool Wesbank ervaar kan word.

Dit sluit gratis aktiwiteite van 10:00 tot 15:00 elke dag in, met uitstaande kinderproduksies. Toegang vir party daarvan is gratis, en vir ander kan kaartjies gekoop word teen R75 vir kinders en R100 vir volwassenes. Die aktiwiteite word aangebied in samewerking met Sasko, wat ook ’n gemaklike teetuin vir ouers en kinders aanbied. Die teaterproduksies sluit ook verskeie bekendes in, soos Margit Meyer-Rödenbeck, Lizz Meiring, Dean Balie, Bianca Flaanders, Jakkie Lou en vele ander.

Die Absa-rooiplein is ’n oase by die Absa-burgersentrum, wat die Absa-kuierkamer insluit.

Heindrich Wyngaard bied op 1 en 2 April twee gesprekke aan as deel van die KLOP!-gespreksreeks, ondersteun deur kykNET&Kie. Vrydag gesels hy in die Absa-kuierkamer, en Saterdag sit hy die gesprek by Aurial College in Springbokweg voort.

Netwerk24 bied ook drie sakegesprekke aan met die Allan Gray- sake- en Sauvignon-gespreksreeks terwyl VIA vermaak met die Bier-uur met Beer Adriaanse voortsit. Besoekers kan ook na ander lekker verrassings saam met Media24-publikasies uitsien.

Alles is vanjaar kontantloos – jy gebruik dus net jou kaart. Debiet- en kredietkaarte is oral by die fees by alle lokale welkom, en ook die oulike Absa/Howler-kaart.

Die volle feesprogram kan maklik as ’n toepassing op jou foon afgelaai word – volg net die basiese instruksies.

Kaartjies is te koop by Webtickets by www.webtickets.co.za/kknk, jou naaste Pick n Pay, of by die kantoor by Voortrekkerstraat 217, Oudtshoorn.

Die KKNK word met trots ondersteun deur onder meer die hoofborg, Absa, en die stigtersborg, Media24.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article