Amber met Annie, die teddiebeer.


As jy hard werk en toegewyd is aan dit wat jy wil bereik, sal jy ver kom in die lewe. Dis die voorbeeld wat Amber Louw, ’n 18-jarige van Langebaan, vir almal kan wees.

Disleksie is op ’n jong ouderdom by Amber gediagnoseer. Sy is ’n oudleerder aan die Hoërskool Hopefield en Vrydag haar matriekuitslae saam met haar klasmaats van 2023 ontvang. Maar ten spyte van haar uitdagings het sy nooit moed opgegee en in ’n hoek gaan sit en haarself jammer gekry nie.

Hoewel Amber baie van haar fisiese mylpale as baba behaal het, het sy gesukkel met taal en spraak. Sy moes op ’n jong ouderdom vir spraak- en arbeidsterapie gaan, wat baie ure geverg het. “Spraakterapie het baie gehelp – veral met taal – en ek het daarmee aangehou tot in my laerskooldae. Maar tot in matriek was dit baie harde werk en lang ure van leerwerk. Dit was bloed, sweet en trane. Ek het nie ure geleer vir ’n vak nie, ek moes ’n paar dae geleer het,” vertel Amber.

Soos elke leerder in gr. 10 hul vakke vir hul toekoms kies, het sy ook destyds dié geleentheid gehad. Een van die vakke wat Amber se belangstelling geprikkel het, was ontwerp, wat deur Lientjie Blok aangebied is.

“Ontwerp is ’n baie kreatiewe vak en die gewig is versprei: 50% prakties en 50% teorie. Tannie Lientjie se kunssentrum is ook mooi en ’n vriendelike omgewing wat dit lekker maak om klas toe te gaan.”

As deel van haar gr. 12- eindeksamen moes Amber ’n produk ontwerp wat aan die Durbanville-kinderhuis geskenk sou word. Amber het besluit om ’n groot teddiebeer te maak en het haar Annie gedoop.

Volgens Amber het sy besluit om ’n teddiebeer te maak omdat dit iets is wat almal geliefd laat voel.

“ ’n Teddiebeer is daar om ’n mens veilig te laat voel of selfs ’n drukkie te gee as jy dalk alleen voel.”

Die praktiese eksamen het drie dae geduur. Aan die einde het Amber ’n pragtige teddiebeer met onder meer pienk, blou en groen gemaak.

Annie die teddiebeer is toe tydens die Desember-vakansie aan ’n maatjie in die Durbanville-kinderhuis geskenk waar Amber glo sy vreugde aan die kind sal bied.

Blok sê sy is ongelooflik trots op Amber. “Sy moes baie hard werk en was baie toegewyd al die pad.”

Amber is ook baie gelukkig met haar eindeksamenpunte en het baie om na uit te sien in 2024. “Ek is by ses universiteite goedgekeur vir onderwys, ’n B Ed-graad, maar moet in die volgende week of so ’n besluit neem. Ek is ook goedgekeur vir ’n diploma in gebeurtenisbestuur, maar ek het nog nie ’n finale besluit geneem nie.”

Amber moedig ander jongmense aan wat ook deur uitdagings gaan om hard te werk. Sy moedig ook ouers aan om hul kinders te ondersteun, want hulle kan dit nie sonder hulle doen nie. “Ek het altyd hierdie sêding: ‘disleksie beheer nie vir my nie, ek beheer dit’.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article