Met die aankondiging dat maskers nie meer verpligtend is nie, heers daar, net soos in die res van die land, gemengde gevoelens onder die Weskussers.

Tarryn Jordaan, ’n onderwyseres vertel dat daar uitbundige ekstase onder menige leerder in skole heers na dié nuus. “Dit is bevrydend om die vars oggendlug te kan inasem sonder ’n masker oor my neus en mond. Ek kan weer vry asemhaal en mense herken.”

Natasha Jantjies, ’n inwoner van Langebaan is net so bly dat maskers nie meer hoef gedra te word nie. Jantjies sê tydens die pandemie het sy baie geleer en gesien hoe mense in vrees gelewe het. Jantjies beskryf haarself as ’n vrye gees wat lief is om in kontak met mense te wees en voel die maskers het haar baie beperk wanneer dit kom by interaksies. Sy voeg wel by dat mense wys moet optree en ander mense se besluite respekteer wanneer dit by Covid-19 kom.

Lothan Love, ’n graad 12-leerder aan die Hoërskool Vredenburg stem dat wysheid nog steeds aan die dag gelê moet word. “Nou dat maskers weg is, voel mense dat alle Covid-19-regulasies by die deur uit is. Ek voel mense moet steeds die nodige Covid-19-regulasies volg en hulle moet laat inent om te verseker dat die Covid-19-getalle nie weer styg nie,” vertel Love.

Die verpleegster Kayla Maart voeg by dat sy persoonlik voel maskers moet steeds gedra word juis omdat Covid-19 nog in die lug is.

Sy sê voorts totdat regerings wêreldwyd die Covid-19-pandemie met geldige mediese bewyse as uitgesterf verklaar, moet ons onsself en ons geliefdes beskerm en maskers dra.

Chrisna du Plessis, stigter van Siyabonga Care Village vertel die Covid-19-pandemie het almal onkant gevang. “Moontlik vir die inwoners en pasiënte van Siyabonga nog meer. Familiebesoeke was beperk en Siyabonga-personeel het soos familie geword.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article