Die Hopefield-gemeenskapsaksiegroep, wat onder die vaandel van die Hopefield-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) tot stand gekom het, het verlede Woensdag (24 Augustus) ’n heerlike Vrouemaand-saamtrek in die Thusong-sentrum in die dorp gehou.
Volgens Marlene Olivier, die GPF-voorsitter, is die vroue van die gemeenskap genooi om hul vrouwees by die geleentheid te kom vier.
Verskeie sprekers het die groep toegespreek oor mooimaak-sessies, klere en vroulike entrepreneurskap. Die oudburgemeester en deesdae sakevrou, Johanna Stoffels, het onder meer met die vroue gedeel hoe sy haar sakeonderneming begin het.
Almal wat tot die sukses van die geleentheid bygedra het, word hartlik bedank.




