Akademia betree vanjaar ’n nuwe groeifase en sal ’n kampus in die Wes-Kaap open – waarskynlik in die Paarl, waar die instansie vir eers geboue sal huur.
Dié instelling word bestuur deur Solidariteit, en kan so gou as in 2026 sy deure in die Paarl open.
Volgens ’n artikel in Rapport help finansier mense uit die Stellenbosch-gemeenskap dié kampus omdat hulle besorgd is oor verskraling van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch.
Hoewel ’n Akademia-sentrum reeds in die Paarl in Pastorie-laan bestaan, sal dié tersiêre instelling eersdaags tot ’n volwaardige kampus uitbrei.
Volgens Rapport is die perseel wat geoormerk word, “goed geleë” waar “sekere partye reeds aangekondig het dat hulle grond sal skenk”.
“Akademia geniet reeds ’n teenwoordigheid in die Wes-Kaap by wyse van sentrums in George, die Paarl en Somerset-Wes. Hierdie sentrums word benut deur studente wat via die na-uurse afstandsmodel studeer,” luidens ’n verklaring van Akademia.
“Die besluit om Akademia se voltydse kampusmodel, wat tans beperk is tot Centurion in Gauteng, verder uit te brei, is voorts ingelig deur deeglike demografiese navorsing. Volgens hierdie navorsingsbevindings verteenwoordig die Wes-Kaap die grootste konsentrasie Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Hierdie werklikheid spreek direk tot die instelling se bestaansrede as ’n onafhanklike hoëronderwysinstelling wat ten nouste verbonde is aan die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.”
“Die voorgestelde kampus sal studente nie net toegang bied tot Akademia se vyf dinamiese fakulteite nie, maar ook ’n bruisende studentelewe.”
Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sal studente tydens hul studiejare voluit hieraan kan deelneem en hul talente op só ’n wyse ontwikkel dat hulle “roepingsgedrewe tot voordeel van hul gemeenskap sal kan leef”.
Visser sê voorts Akademia het nog nie vasgestelde tydslyne wat die opening van die kampus betref nie, maar bevestig hulle werk reeds onverpoosd agter die skerms om in onder meer die nodige infrastruktuur- en kapasiteitsbehoeftes te voorsien.




