Bekkig met vlymskerp en skreeusnaakse antwoorde . . . dít is hoe die mense van Velddrif die 60-jarige Susanna Diedericks, bekend as Koekie, sal onthou.
Dié klein vroutjie se lyk is Sondagoggend omstreeks 09:00 naby die Riviera-drankwinkel gekry.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, is sy met ’n baksteen oor die kop doodgeslaan. Haar vermeende moordenaar en kêrel, Johannes Keyster (49), het gister (Woensdag 31 Julie) in die Laaiplek-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
“Met Keyster se inhegtenisneming was sy klere en sy gesig vol bloed.”
Koekie se kopbeserings is só erg dat haar dogter, Alida Diedericks Smit, wat haar by die lykshuis moes gaan uitken, daaroor op Facebook geskryf het. “Hy het jou baie seer geslaan met daai klip. Die wond voor jou kop en naby jou slaap . . . Mammie, jy’t nie verdien om so seer te kry nie. Hy kon jou mos net uitgelos en weggeloop het. Hoekom jou so seer slaan met ’n klip? Hoekom, my mammie?”
Dat Koekie geliefd was onder die inwoners van Velddrif is duidelik as na die vele inskrywings op veral Facebook gekyk word.
Die raadslid Sammy Claassen skryf dat Koekie een van die bekendste mense in Velddrif was – “ ’n ikoon in eie reg; ’n vrou met ’n opregte persoonlikheid en karakter wat niemand van haar kon wegvat nie”. Claassen beskryf haar as deel van die dorp se 100 bekendste persoonlikhede.
Ronelle Taljaard-Dipaola twyfel of Koekie ooit besef het hoeveel mense haar as mens waardeer het. Sy sê Koekie was altyd gereed met ’n geselsie of grappie en vele staaltjies wat mense sal kan vertel. “Ek gaan haar gesiggie en gesels gewis mis! RIV Koekie Malie.”
Rene Barnard is hartseer oor Koekie se dood. “Wanneer ek jou gesien het, kon ek altyd jou siel uittrek. ‘Koekie, kyk hoe lyk jy, jy is al weer dronk?’ Dan is jou antwoord (sleeptong natuurlik), ‘Wie? Ék? Ek drink dan nie eens nie!’ En in dieselfde asem: ‘Gee daar ’n geldjie’. Barnard glo iemand wie se pad nie met dié van Koekie gekruis het nie, het vir seker iets in Velddrif gemis.
Ria Naude meen as ’n Weskus-bekende soos Koekie huis toe gaan, gaan ’n baie mooi storie verlore.
Koekie kon Cilia Joubert en haar familie altyd lekker laat lag: “Ai, Koekie, ons sal al jou stories mis.”
Elna Visser du Toit sal Koekie veral mis as sy dorp toe gaan. “Ek was baie lief vir haar met al haar sêgoed.”
Soos vele ander meen Maralinda Engelbrecht Truter dat Koekie nie verdien het om so te sterf nie, en verwys sy na Katy wat verlede jaar ook wreed vermoor is.
Annalize Thyssen Erasmus skryf dat Koekie ’n klein mensie met ’n groot persoonlikheid was, met ’n hart van goud. “Sy was geliefd in die Weskus.”
Tommy Carstens onthou haar as ’n mense-mensie wat glad nie tyd vir doekies omdraai gehad het nie. Hy bedank haar dat sy altyd, sonder dat sy dit dalk besef het, ’n mens kon laat glimlag en sommer lekker kon laat lag.
Koekie was enig in haar soort, skryf Natalia Jasmine Petersen-Boumeester. “Die sêgoed was die beste.”
Selfs Carli Blom wat al ’n geruime tyd gelede verhuis het, onthou Koekie se gesiggie en klein lyfie. “Jy laat ’n groot leemte in baie mense se harte.”
Koekie kon glo so vir Hanneke Thiart du Toit pla, maar dan altyd vir haar vertel hoe lief sy vir haar is.
En Mariëtte Rossouw onthou hoe sy altyd so lekker vir Koekie se pittigheid kon lag.
Vir Christa Visser het Koekie, “Koekie Koekeloekie” altyd gesing vir ’n geldjie. “Dit sal ek altyd van jou onthou, Koekie. Gaan jou gewis mis.”
Paula Cilliers beaam dat Koekie legendaries is.
“Wie ken haar nie? Net die nuwe inwoners . . .”
Begrafnisreëlings kon nog nie getref word teen die tyd dat die koerant drukkers toe is nie.




