Met die eerste ronde van die Boland-rugby-Grootuitdaagbekerreeks nou agter die rug, loop die Agterbaaiers steeds stert in die lug.
St. Helenabaai is die enigste onoorwonne span in die streek en is ’n enkele punt voor die verdedigende Boland-klubkampioen, Saldanha.
Dié twee spanne het Saterdag min moeite in hul onderskeie oorwinnings ondervind. Saldanha het die 14 man van Young Hearts 36-7 geklop terwyl die voorlopers Velddrif in ’n wegwedstryd ook maklik 35-13 geklop het.
Vredenburg se Burg Boys is 11 punte agter die voorloper en ses voor Young Hearts. St. Helenabaai en Saldanha het in die eerste ronde voortreflike rugby gespeel, en as hulle die pas kan volhou, sal hulle gewis die streek in die uitspeelrondes verteenwoordig. Die Burg Boys, Young Hearts en Mamre is van die spanne wat by tye baie ongelukkig was en sal nou moet uithaal en wys indien een van hulle nog die uitspeelrondes wil haal.
Young Hearts het ’n beter wiskundige kans om die voorlopers in te haal aangesien die topspanne almal die Grafkelder in die tweede ronde moet besoek. Mamre was een van die vroeë gunstelinge ná sy goeie voorseisoense voorbereiding en het van die topspanne in vriendskaplike wedstryde geklop. Die groen truie kon egter nie dieselfde spelpeil in hul ligawedstryde handhaaf nie en het ook ’n paar wedstryde naelskraaps verloor.
Mamre op sy beste kan enige span enige dag op enige plek klop, goeie rekenskap van homself gee en ook die kaarte lelik deurmekaar krap.
Die grootste teleurstelling op die punteleer is Piketberg, wat sy buiging dié seisoen in die streek gemaak het.
Die span het baie goed in sy eerste wedstryd begin toe hy die kampioen laat bloed sweet het vir ’n oorwinning. Daarna het hy egter net afwaarts beweeg tot laaste op die punteleer.
Velddrif met sy drie punte voor Piketberg kan ook van die voorlopers reeds vroeg skrikmaak, wat baie in die guns van Vredenburg en Young Hearts kan wees.
Saterdag se uitslae was: Saldanha 36-7 Young Hearts; Mamre 22-26 Vredenburg; Velddrif 13-35 St. Helenabaai en Hopefield 19-17 Langebaan.
Die Swartland-streek is baie meer mededingend en Abbotsdale se Lillies pronk behoorlik. Die span is ook steeds onoorwonne ná die eerste ronde in die streek. Met slegs vyf punte wat die vier topspanne skei, kan die kaarte hier ook nog goed deurmekaar gekrap word.
Wesbank blaas in Lillies se nek terwyl Never Despair se Tiere en Darling hard in Wesbank se nek blaas.




