St. Helenabaai bars deur Mamre se verdediging in die spanne se eerste Boland- Weskusstreek-grootuitdaag-rugbyligawedstryd in Mamre. Foto: Murphy Roberts


Die Bolandse Grootuitdaag-rugbyliga het Saterdag afgeskop, maar nie juis baie verrassings opgelewer nie.

St. Helenabaai, wat onlangs Vredenburg se Paas-toernooi gewen het, het na Mamre gereis om sy seisoen af te skop. St. Helenabaai het met karakter, veggees en die wil om te wen nooit opgegee nie en ook gewys dat rugby eers ná 80 minute gewen word.

Die span van die Agterbaai het gou die tuisspan geskud met ’n verdoelde drie om 7-0 voor te wees. Met die wind in die gesig het die besoekers ook verskeie kanse verbrou om goeie bewegings in punte om te skep, wat hom byna die wedstryd gekos het.

St. Helenabaai het die wedstryd 20-18 gewen nadat hy rustyd 10-18 agter was.

Die besoekers het die tuisspan in die eerste helfte toegelaat om gebiedsvoordeel te geniet om nie sy lynskoppe uit te skop nie. Met beide spanne wat in die lynstane gesukkel het, het St. Helenabaai die tuisspan met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou.

St. Helenabaai het die tweede helfte met die wind agter sy blaaie heeltemal oorheers en nog 10 punte teenoor geen punte vir die tuisspan nie aangeteken.

Die Agterbaaiers sal na hul dissipline moet kyk – veral in taai wedstryde – wat maklik teen hom kon getel het.

Die tuisspan het met vyf minute oor ’n strafskop vlak voor die pale weens swak dissipline van St. Helenabaai gekry. Dit kon ook die wedstryd in Mamre se guns geswaai het as hulle besluit het om eerder die punte te vat.

Gelukkig vir St. Helenabaai het Mamre besluit om te skrum en met nog twee strafbare oortredings het die tuisspan steeds volhard met die skrum – tot groot verligting van St. Helenabaai, wat koelkop gebly en die wa met omgekeerde besit deur die drif getrek het.

Ander uitslae in die Boland Weskus-streek: Saldanha 25-12 Piketberg; Langebaan 20-19 Velddrif; Vredenburg 31-3 Hopefield; Young Hearts 46-13 Paternoster.

Hierdie naweek speel Paternoster op sy tuisveld teen Mamre, St. Helenabaai ontvang Langebaan terwyl Velddrif na Vredenburg reis. Hopefield ontvang besoek van die verdedigende Boland-kampioen Saldanha terwyl Piketberg Young Hearts van Pella ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article